MOSSELBAAI NUUS - 'n Oudinwoner van Reebok, Kotie Nel (57), is onlangs in Lemoenkloof in die Paarl vermoor.
Nel het onlangs na Velddrif aan die Weskus verhuis, en is op Donderdag 26 Maart dood in haar susterskind se woning in Pleinstraat aangetref.
Sy het die huis opgepas terwyl die eienaars oorsee was.
Sy het meer as 'n dekade in Reebok gewoon en was veral bekend vir haar beskuit, wat sy gebak en verkoop het.
Sy het ook ingelegde konfyt en vrugte gemaak, en was bekend vir haar heerlike wortelkoek.
Volgens haar suster, Rina, was Kotie vir baie jare deel van die Doxa Deo se kinderkerk, asook die kerk self, en was sy bekend vir haar warm persoonlikheid en goedhartigheid.
Sy self het geen kinders gehad nie en haar man is in 2019 oorlede.
Rina beskryf die verlies as 'n groot skok vir die familie. "Dit is so verskriklik hartseer. Sy was 'n liefdevolle mens, regtig 'n goeie mens wat baie mense geraak het."
Kotie sal in die Paarl veras word.
Die familie beplan om later vanjaar 'n gedenkdiens te hou, waarna haar as volgens haar wens in die see gestrooi sal word.
'n Datum vir die diens is nog nie vasgestel nie.
Die polisie-ondersoek duur intussen voort.
Enigiemand met inligting word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel of die My SAPS-toepassing anoniem te gebruik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’