Op die maat van 'Seventy six Trombones' het hierdie befaamde musikant en sy ewe bekende en beminde orkes die arena binnegestap, en met vuurwerke en fanfare die manjefiek voorbereide verhoog bestyg.
Verhoogvermaak met agtergrondtonele om oor liries te raak. 'n Maestro en sy hele orkes wat 'n lewensblyheid uitstraal, ten spyte van 'n dol lewe van optredes dwarsdeur die wêreld. Hoe dan anders, elke musikant 'n meester(es) opsigself, besig om te doen wat hulle die beste doen en die meeste geniet - wêreldklas musiek aan te bied.
Die Johan Strauss koor, bestaande uit ses dames in hul swierige balrokke, het terselfdertyd die verjaardag van hul 25 bestaansjaar beleef, en hier was dit die entoesiastiese gehoor wat hulle met 'Happy Birthday' toegesing het.
Nie die minste van die uitmuntende vermaak nie, was die optrede van die drie bekende tenore, sowel as die drie Russe, laasgenoemde met 'n groot balalaika, en 'Lara's Theme'.
Suid-Afrikaners kan ook nie bietjie trots wees op ons eie talent nie, die Sowetan Gospel Choir, sowel as die nuutgevonde swart diamant, Kimi Skota, wat die aand met hul uiters talentvolle optredes vervolmaak het.
Toe die veelgewaardeerde Strausswalse aan die beurt gekom het, het paartjies hul waardering getoon deur tussen die gangetjies die sonderlinge geleentheid te benut met 'n swaai en 'n draai. Twee volle ure, afgewissel met 'n pouse, het omgevlieg en Rieu het toegegee met ten minste vyf encores nadat die veelkleurige ballonne op die bewonderende gehoor neergereën het.
En toe hy van die verhoog afstap, kon elke vrou glo dat die soentjie wat hy gewaai het, net vir hààr bedoel was.

Die Johan Strauss koor, bestaande uit ses dames in hul swierige balrokke, het terselfdertyd die verjaardag van hul 25 bestaansjaar beleef.