Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Deelnemers aan die wêreld se mees uitdagende opblaasbootresies, het op 28 Desember by Nature's Valley weggespring.
Beter bekend as die Aquila Safari Trans Agulhas Challenge, is dit een van die mees veeleisende aksie watersportuitdagings. Vanjaar was daar 37 inskrywings. Die totale afstand van 650,5km is oor 'n tydperk van vyf dae aangepak.
Die resies is in Desember 2019 vir die 32ste keer aangebied met deelnemers wat tydens die wedvaart by verskeie kusdorpe aangedoen het.
Die langste afstand wat per dag afgelê is was die 188.5km-skof tussen Plettenbergbaai en Mosselbaai. Die rowwe see en wind het op die eerste dag al sy tol geëis met vyf bote wat dit nie tot in Mosselbaai gemaak het nie. Sommige van die deelnemers is deur die NSRI te hulp gesnel veral rondom Robberg waar die toestande baie straf was.
Die vaartuie het op 29 Desember vanaf Mosselbaai se Santosstrand na Stilbaai vertrek oor 'n afstand van 86km. Die derde skof was vanaf Stilbaai na Struisbaai oor 161km. Die volgende dag was die vierde skof tot by Uilkraalsmond en vandaar het hulle dieselfde dag vertrek op die vyfde skof na Gansbaai.
Die span van M49 in aksie tydens die Aquila Safari Trans Agulhas bootresies.
Die afstande was 87km en 24km onderskeidelik. Die laaste skof op Nuwejaarsdag was tussen Gansbaai en Gordonsbaai en is oor 'n afstand van 104km voltooi waar die resies geëindig het.
"Hierdie jaar se Aquila Safari Trans Agulhas-uitdaagresies was verseker die moeilikste see- en weersomstandighede wat die ryers ervaar het in jare. Dit het definitief die spanne en hul toerusting getoets tot die maksimum," het Stefan Lindeque, organiseerder van die wedvaart aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Rowwe toestande het hulle verwag.
Uit die 37 spanne wat ingeskryf het, kon slegs 25 die laaste dag haal in Gordonsbaai. Met die rowwe toestande het hulle verwag dat meer beserings sou opgedoen word, maar slegs drie deelnemers het nie te ernstige rib- en rugbeserings opgedoen. Drie oorsese spanne het deelgeneem.
Hulle is vanuit Duitsland, Amerika en die British Virgin Isles. Die Duitsers en Amerikaners het egter nie die wedvaart voltooi nie weens toerusting wat gebreek het en 'n ribbesering.
*Elke boot se bewegings oor die vyf dae kan op tractrac.com se webtuiste gesien word of besoek die 'Official Trans Agulhas' facebook bladsy vir uitslae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'