MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die Mosselbaai Seiljag- en Bootklub se 2018 Mosselbaai Kabeljou-derby het op Maandag, 17 Desember in perfekte weer plaasgevind.
Die NSRI het om 05:00 die 35 skibote met die afskiet van 'n fakkel laat wegspring. Daar was gemiddeld vier hengelaars per boot.
Die skale het om 15:00 geopen en die eerste groot kabeljou is kort daarna ingeweeg.
Deon Adendorff het met 'n prag kabeljou van 31.7kg die R10 000 prysgeld gewen. Dit was die eerste keer wat hy aan die Derby deelgeneem het hoewel hy al die afgelope 15 jaar in Mosselbaai vakansie hou.
Hy was 'n hengelaar op die boot Aspoestertjie en het die wen kabeljou in die Groot-Brakrivier area gevang. Bekende plaaslike hengelaars Pierre van Rensburg en Johan van Vuuren van die boot No Problem, het onderskeidelik met die tweede (R7 500) en derde pryse (R5 000) weggestap.
Met die wegspring vroegoggend, moes daar ook rekening gehou word met Leslie, die olifantrob wat al die afgelope twee weke die sleephelling van die klub okkupeer. Leslie is in die proses van verhaar en lok huidiglik groot belangstelling uit. Sy het baie vriendelik die manne en hul bote gade geslaan terwyl die vrywilligers van S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team), 'n oog oor haar gehou het. Die span pas haar al die afgelope drie weke dag en nag op.
Leslie, die Olifantrob wat al die afgelope twee weke by die klub is terwyl sy verhaar, het al die bote se bedrywighede nuuskierig beskou.
Pierre van Rensburg en Johan van Vuuren met hul kabeljoue wat hulle vanaf die boot No Problem gevang het. Foto: Tersia Marais
Die wen kabeljou het die skaal op 31.7kg getrek en Deon Adendorff is die trotse hengelaar. Foto: Tersia Marais'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'