MOSSELBAAI HENGELNUUS - Die Eden-hengelassosiasie se eerste winterliga-kompetisie van die jaar het hengelaars 'n keuse gegee om lyne nat te maak by hul gunsteling visvangplek van sover as Stilbaai tót Knysna. Die kompetisie het oor twee dae, 22-23 Junie gestrek.
Knysna-hengelklub het die beste gevaar en 87,72 punte ingesamel. Knysna se Wesley Rapson het die beste vangste opgelewer en 67,54 punte vir sy span behaal. Die top junior hengelaar was Xandré Coetzee (o/16) van Stilbaai-hengelklub wat 17,48 punte losgehengel het. Johan Van Rensburg van Mosselbaai-hengelklub het met 24,36 punte die prys as top meester gewen. Marina Fuchs van Triton-hengelklub (Mosselbaai) is met 1,35 punte as die beste vroue-hengelaar aangewys.
Die grootste eetbare vis, 'n 12,18kg-steenbras, is deur Van Rensburg gevang. Rapson het die swaarste oneetbare vis, 'n 18,63kg-sloephaai ingeweeg.
'n Totale massa vis van 313, 59kg is deur die 73 hengelaars geland. Dit sluit in 69 oneetbare vis en 41 eetbare vis.
Banie Vermeulen, woordvoerder vir die Eden-hengelassosiasie, sê al die vis is lewendig teruggeplaas om bewaring te bevorder.
Klub posisies
A-liga: 1. Knysna - Team Extreme: 87,72; 2. George - Bosvarke: 58,17; 3. Stilbaai - Stilmonsters: 52,48; 4. George - Wortels: 37,94; 5. Triton (Mosselbaai) - Bronze Whalers: 37,69; 6. Outeniqua - Clutchcables: 37,37; 7. Mosselbaai - Otters: 25,78; 8. Stilbaai - Assessins: 18,34; 9. Stilbaai - Barbarians: 10,24; 10. Triton (Mosselbaai) - Ninjas: 6,64; 11. Knysna - Piesangs: 6,21; 12. Triton (Mosselbaai) - Woelwaters: 3,59.
Dave Viljoen met 'n galjoen van 4,22kg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'