SUID-KAAP NUUS - Die SWD se junior rugbyspanne het gedurende die eerste twee dae van die nasionale jeugweke, of Craven Week soos dit bekend staan, in Gqeberha gewys dat daar steeds groot potensiaal binne die unie skuil.
Hoewel die Cravenweekspan twee nederlae teen sterk teenstanders moes verduur, het die Akademieweek- en o.18-meisiesspan indrukwekkende vertonings gelewer.
Cravenweek: Karakter teen die land se beste
Die SWD Cravenweekspan het die toernooi teen die Sharks geopen, die Arende het uitstekend begin toe Badenhorst vroeg die eerste drie van die wedstryd gedruk het en die span het vir groot dele van die eerste helfte gewys dat hulle met enige span kan meeding.
Kaptein Jacobus de Villiers het weereens van voor gelei en was saam met die SWD-voorspelers een van die uitblinkers. Rustyd was die telling 7-5 in die Sharks se guns.
Die wedstryd het egter kort ná rustyd dramaties verander. Twee geelkaarte het die SWD duur te staan gekom en die Sharks het die voordeel benut om binne die tydperk 17 punte aan te teken. Adrian Smith en Refugon Hendricks het later teruggeslaan met drieë, terwyl Tylor Marais verdoel het, maar 'n laat Sharks drie het die eindtelling op 36-19 vasgemaak.
Hoewel die telling groot lyk, was die wedstryd veel nader as wat die telbord aandui.
Sterk begin teen Vrystaat nie genoeg
Woensdag het SWD in hul tweede wedstryd teen Vrystaat by Grey High School in Gqeberha gespeel.
Vrystaat het reeds in die tweede minuut eerste bloed geruik, maar SWD het uitstekend gereageer en drie drieë sonder antwoord gedruk om skielik met 19-5 voor te loop.Moeshaan Mortlock, Refugon Hendricks en Adrian Smith het elk gaan druk, terwyl Tylor Marais al drie drieë verdoel het.
Vrystaat het egter net voor rustyd met twee drieë teruggeslaan om die telling gelyk te maak en die spanne het met 19-19 gaan water drink.
Die tweede helfte was 'n fisieke stryd waarin SWD se voorspelers weer hul staal gewys het.
Die agterlyn het ook merkbaar beter gevaar as in die openingswedstryd en meer vloeiende aanvalle geloods.
Te veel gemiste duikslae en enkele duur foute het egter die deur vir Vrystaat oopgemaak, wat hul geleenthede uitstekend benut het om met 36-28 te wen.
Ondanks die nederlaag sal die afrigters baie positiewe aspekte uit die wedstryd neem, veral die verbeterde aanvallende spel en die span se vermoë om teen een van die tradisionele rugbykragte vroeg beheer oor die wedstryd te neem.
Akademieweekspan blink uit
Waar die Cravenweekspan harde lesse leer, sorg die SWD Akademieweekspan vir groot glimlagte.
Ná hul eerste wedstryd het die SWD-span op die tweede dag 'n uitstekende 52-14 oorwinning behaal teen Griekwas
Die span het aanvallende rugby gespeel, goeie balbesit geniet en hul teenstanders met sterk voorspelerspel en skerp afronding onder druk gehou.
Hierdie vertonings wys dat die talentpoel binne SWD-rugby gesond bly.
Meisies begin uitstekend
Die SWD o.18-meisiesspan het hul week op uitstekende wyse afgeskop deur hul eerste wedstryd met 44-5 te wen. Vandag het hulle voortgebou op daardie oorwinning deur OP te klop 15-10, hulle is nou tans onoorwonne.
Die span het van die begin af die tempo bepaal en met goeie hantering, sterk verdediging en kliniese afronding hul teenstanders geen kans gebied nie.
Die oorwinning is 'n verdere bewys van die groei van meisiesrugby binne SWD en gee groot hoop vir die toekoms. Die toernooie eindig Vrydag en die Craven en Akademie week Saterdag.
o. 13 Aksie
SWD se o.13-Cravenweekspan het nie net rugby gespeel nie, maar elke wedstryd oorheers en hul fisieke spel, vaardigheid en uitstekende afronding ten toon gestel. Die span het topspanne soos die Bulle, Luiperde en Griffons uitklas en ook vir Boland geklop.
Die seuns het geskiedenis gemaak deur een van die eerste o.13-spanne te word wat 'n Cravenweek-eindstryd gehaal het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’