RUGBY NUUS - Rugbyskeidsregters in die SWD vra dat die aangeleentheid van veiligheid van hul lede op die spits gedryf word. Voorvalle waar skeidsregters fisies aangerand en verbaal beledig is, het al verskeie kere voorgekom.
In die jongste voorval is 'n skeidsregter die afgelope naweek na bewering voor 'n wedstryd in Knysna aangerand. 'n Klag is Maandagoggend, 31 Julie, by die SWD-skeidsregtersvereniging ingedien. Dit is daarna verwys na SWD-rugby se tugkomitee.
Verteenwoordigers van die twee klubs en die skeidsregter sal Donderdagaand, 3 Augustus, tydens 'n vergadering by Outeniquapark in George die geleentheid kry om hul kant van die saak te stel.
Gavin Esau, voorsitter van SWD-skeids-regtersvereniging, het Dinsdag gesê hy kan nie kommentaar oor die spesifieke voorval lewer nie. "Ek kan nie die saak vooruitloop nie."
Uit George Herald se gesprek met hom wil dit egter voorkom of die kwessie van veiligheid al 'n geruime tyd kom en ook in ander dele van die land 'n brandpunt is. Volgens Esau is daar groot kommer oor die veiligheid van skeidsregters by klubwedstryde in die land.
"Mense wil nie meer in wedstryde blaas nie."
Hyself het verlede jaar die fluitjie opgehang oor die veiligheidsaspek en is daarna gevra om homself as voorsitter beskikbaar te stel.
"Ons sukkel om skeidsregters vir klubwedstryde te kry as gevolg van die veiligheidsaspekte. Dis nie net fisiese geweld nie, maar ook verbale aanslae."
Volgens hom word gesprekke tussen skeidsregters in die verskillendes sones in die streek gehou. Wanneer dit afgehandel is sal terugvoering gegee word.
Dis in die stadium nie 'n krisis nie. Hy het bygevoeg: "Ons wil verhoed dat dit erger raak."
Esau het die belangrikheid van skeidsregters onderstreep. "Skeidsregters speel 'n belangrike rol en sonder hulle kan die wedstryde nie plaasvind nie."
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor 'n spesifieke voorval nie.
Hy is wel in die algemeen bewus van die uitdagings. "Ons beskou dit in 'n ernstige lig. Ek kan nie genoeg die belangrikheid daarvan beklemtoon nie. Die reëls en regulasies maak voorsiening daarvoor. Elke tuisklub is verantwoordelik vir die skeidsregters en beamptes se veiligheid.
"Elke klub moet hul ondersteuners oor die veiligheidsprosedures van skeidsregters inlig."
Volgens hom is die veiligheid van skeidsregters ononderhandelbaar.
"As daar skuldiges is, sal daar met dringendheid teen hulle opgetree word.
"Dis 'n euwel in SWD-rugby wat ons wil uitroei. Wen het vir van die klubs so belangrik geword dat sportmangees by die agterdeur uitgegooi is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’