MOSSELBAAI NUUS - Met nog ’n wegholoorwinning van 77 - 33 die afgelope Saterdag teen Progress in Rosemoor het die Barbarians gewys hulle gaan moeilik gestuit woord.
Hierdie oorwinning is egter nog nie genoeg om hulle van ’n tuishalfeindstryd te verseker nie.
Komende Saterdag kom hulle in hul laaste wedstryd teen Bridgton in Oudtshoorn te staan - hulle moet minstens twee punte hieruit kry vir die halfeindstryd om by D’Almeidapark plaas te vind.
Die Progress-kragmeting, wat teen ’n vinnige pas begin het, het in totaal 16 drieë opgelewer waarvan Barbarians 11 teenoor Progress se vyf gedruk het.
Weereens het Babaas voorlangs gedomineer soos in hul vorige wedstryde en hul blitsige agterlyn kon met goeie aanvalslyne die tuisspan onder druk plaas.
Progress, ook bekend vir hul aanvallende spel met die veteraanagterspeler, Erick Zana, aan die voorpunt, was by tye ook skitterend op die aanval, maar samespel het ontbreek.
Barbarians daarteenoor het as ’n eenheid gespeel, wat tot ’n paar langafstanddrieë gelei het - hiervan het die spoedvraat en regtervleuel, Curlin Groenewald, vier gedruk.
Teen rustyd was die telling reeds 42 - 14 in die Barbarians se guns.
In die tweede helfte het hulle die krane verder oopgedraai en nog 35 punte bygevoeg. Die tuisspan het ’n beter tweede helfte gehad en het drie keer agter die doellyn gaan kuier, maar toe is die skrif reeds aan die muur.
Die Barbarians se B- en C-span het onderskeidelik met 21 - 17 en 19 - 18 gewen, en kwalifiseer ook vir die halfeindstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’