MOSSELBAAI SPORT NUUS - Die Mosselbaai munisipale dorpsrugbyspan, 'n geïntegreerde span spelers verteenwoordigend van alle plaaslike rugbyklubs draf op 28 September uit vir hul eerste wedstryd in die nuwe rugbyliga, die SWD Municipal Rugby Challenge wanneer hulle teen die span van Oudtshoorn te staan kom.
Die burgemeester, raadsheer Harry Levendal is die beskermheer van die Mosselbaai-span.
Agt dorpe in die groter Tuinroete gaan teen mekaar meeding om uiteindelik as die beste munisipale span gekroon te word.
As munisipaliteit het Mosselbaai geen gelyke in die distrik nie, daarom word dieselfde verwagtinge van die rugbyspelers wat vir die munisipale span gekies word, gekoester.
Mosselbaai sal meeding teen die spanne van George, Oudtshoorn en Hessequa. 'n Plaatliga sal geld vir die dorpspanne van Sentraal Karoo, Kannaland, Bitou en Knysna. Die twee ligas sal ook teen mekaar meeding in die toernooi wat voorlopig beplan word vir 28 September tot 9 November.
Aanskoulike rugby sal opgedis word in die tuiswedstryde wanneer Mosselbaai op 12 Oktober Hessequa aanvat op die A'Almeida stadion, en op 2 November takel George die Mosselbaaiers op die Greenhavengronde in Groot-Brakrivier.
Borgskappe nodig
Besighede in die groter Mosselbaai word die geleentheid gebied om die dorpspan met borgskappe te ondersteun. Die SWD Rugby sal die spanne se wedstrydklere, uitgesluit hul rugbystewels borg, maar die span het ook oefenklere en netjiese uitrustings vir van die veld byeenkomste nodig.
Dit bied Mosselbaai se besighede die die ideale geleentheid vir effektiewe sosiale korporatiewe belegging wat tot 'n ruim ondersteuningsbasis sal spreek.
Besighede kan, in ruil vir hul borgskappe, ook effektiewe blootstelling op die amptelike wedstryddrag kry.
Eetplekke kan saamwerk
Die spanne sal elk in ses wedstryde meeding; drie tuis en drie wegwedstryde.
Dus word nie net oefendrag benodig nie, maar die geleentheid bestaan ook om die spanne se voorwedstrydetes te borg, wanneer vir sowat 50 persone, wat die afrigtingspan onder meer insluit, voorsiening gemaak moet word. Borge wat hier ruim bydraes maak se logo's kan selfs in verdienstelike gevalle ook op die wedstrydklere van die span pronk.
Hierdie nuwe span bied uitstekende bemarkingsgeleenthede vir korporatiewe borge. Raadsheer Levendal wys daarop dat Mosselbaai se onderskeie rugbyspanne tot nog toe altyd baie goed in die bestaande ligas presteer het, en dus 'n baie goeie kans het om 'n oortuigende impak in die nuwe liga te maak.
Besighede van Mosselbaai wat belangstel om dorpstrots aan te wakker en hul gewig en geld op die dorpspan te plaas kan met Jacques Saayman, die SWD-koördineerder vir Mosselbaai (082 583 2501) kontak oor hul betrokkenheid.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'