Gallery
HEIDELBERG NUUS - Heidelberg, die nuweling in die SWD Premierliga-rugbykompetisie, het Saterdagmiddag vir 'n groot opskudding gesorg toe hulle op hul tuisveld die gedugte Barbarians van Mosselbaai met 27-10 geklop het.
Heidelberg is verlede seisoen na die Premierliga bevorder nadat hulle George in die Presidentsliga-eindstryd met 28-20 geklop het.
Die tuisspan het met die oorwinning oor Barbarians, wat die seisoen al met Evergreens en Silver Stars afgereken het, getoon dat hulle vanjaar 'n groot krag in die kompetisie kan wees.
Twee vinnige drieë in die eerste helfte van die wedstryd deur die voormalige SWD o.20-binnesenter, Denver Lutz, het Barbarians op hul knieë gehad. Corbin Swartbooi (heelagter) het albei drieë verdoel en ook nog 'n strafdoel oorgeklits, wat Heidelberg rustyd met 17-7 laat voorloop het.
Simon du Toit (slot) is in die tweede helfte oor vir die wenspan se derde drie. Swartbooi het met die doelskop geslaag.
Lutz is vir sy puik spel as speler van die wedstryd beloon. Sy sentermaat, Andries Manho, het ook uitstekende rugby gespeel. Swartbooi was altyd gevaarlik as hy by sy agterlyn aangesluit het.
Voorlangs was die oud-Arend, Lyndon Hartnick (slot) en lostrio, Marselino Meyer, Fernoll Pretorius en Martin Hartnick, die wenspan se staatmakers.
Barbarians se enigste drie is gedruk deur Jerome Fillies (regtervleuel). Justin Bhana (heelagter) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
Progress het Saterdagmiddag op die Rosemoor-sportterrein sy onoorwonne status behou deur Bridgton van Oudtshoorn met 32-21 te klop.
Bridgton het in die eerste helfte van die wedstryd met 'n groot aanslag begin. Hul vurige haker, Chessy September, is in die 13de minuut na 'n rolmaalbeweging oor vir 'n drie.
In die 37ste minuut het Enver Venter (heelagter) gaan druk na 'n sterk lopie deur hul spoedvraat, Charlie Ewerts (linkervleuel). Hul flanke, Wayne Julies en Hardus Coetzee, het met hul spoed na die afbreekpunte die oog gevang. Rustyd was die besoekers met 15-10 voor gewees.
In die tweede helfte het Progress die oorhand geneem in die wedstryd. Veral in die skrums het hulle die volstruisboere harde bene laat kou.
Brianton Booysen (haker), Christo du Plessis (agtsteman) en Solomon Manxodidi (flank) het voorlangs die vonk verskaf vir die wenspan.
In die middelveld het hul senterpaar, Werner Jacobs (kaptein) en Cheslin Jafta, in die aanval en verdediging geskitter.
Carlton-Dee Coeries (regtervleuel), seun van die oudBlitsbok, Darryl Coeries, het met sy spoed en voorgevoel vir die spel beïndruk. Coeries het in die 27ste minuut van die wedstryd 'n pragdrie gedruk.
Oswill Nortje (skrumskakel), Manxododidi, André Bernardo (slot) en Booysen is ook oor vir drieë vir die wenspan. Ronaldo Fortuin (heelagter) slaag met 2 doelskoppe en Jade Roelfse (losskakel) met 'n strafdoel.
Evergreens het vir Maori's op die Heidedal-sportterrein met 19-5 getroef. Chadley Stride (heelagter), Francois Kemp (agtsteman) en Stan Tshetso (slot) het vir die wenspan gaan druk. Quinton Afrika (losskakel) klits 2 doelskoppe oor.
Groot-Bakrivier het 4 drieë gedruk in hul volpunte oorwinning van 27-16 oor Blanco op sy tuisveld.
Crusaders het vir Silver Stars in 'n naelbytstryd op die Parkdene-sportterrein met 12-9 geklop.
Luvando Maxeko het die wenspan twee drieë gedruk. Henry Wolhuter slaag met 'n doelskop. Vir Silver Stars slaag Ashwin Scott (binnesenter) met 'n skepdoel en Henrico Scott (losskakel) en Neillin Scott (heelagter) elk met 'n strafdoel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'