MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Mosselbaai, soos die ander munisipaliteite in die Tuinroete gaan eersdaags deelneem aan die nuut-geloodsde SWD Municipal Rugby Challenge waar dorpspanne mekaar die stryd gaan aansê. Die aansien van elke dorp is dus op die spel.
Gebaseer op die dorpsligakonsep van vroeër, sal een span uit al die onderskeie rugbyspanne vanuit die groter Mosselbaai gekies word om die dorp se naam en eer te verteenwoordig wanneer hulle om 'n beker dit uitspook teen ander dorpspanne in die streek.
Mosselbaai sal meeding teen die spanne van George, Oudtshoorn en Hessequa.
'n Plaatliga sal geld vir die dorpspanne van Sentraal Karoo, Kannaland, Bitou en Knysna.
Die twee ligas sal ook teen mekaar meeding in die toernooi wat voorlopig beplan word vir 28 September tot 9 November.
Hierdie opwindende konsep sal onder die vaandel van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal as beskermheer plaasvind. Onderliggend aan die inisiatief is die ontwikkelingsingesteldheid van sport in die groter SWD.
Die span wat Mosselbaai gaan verteenwoordig, sal uit al die bestaande Mosselbaaise spanne gekies word wanneer die keurders die wedstryde wat gaan plaasvind tot voor die aanvang van die nuwe liga sal bywoon. Gekeurde spelers sal genooi word na twee slypsessies, waarna die volwaardige dorpspan aangekondig sal word.
Hierdie nuwe span bied uitstekende bemarkingsgeleenthede vir korporatiewe borge aangesien spandrag van meet af aan ontwerp sal moet word. Plaaslike skole word by die inisiatief betrek vir die ontwerp van die spandrag. Die dorpspan sal dus nuwe oefenklere, sportdrag en spanuniforms benodig teen 'n geskatte R35 000 vir die groep. Die SWD is in die proses om vir alle dorpspanne beide 'n administratiewe onderbou asook 'n baanspan, wat uit onder meer die afrigter sal bestaan, aan te stel. Die SWD sal omsien na sommige uitgawes verbonde aan die byeenkomste, maar plaaslike besighede word genooi om hul vaandel (en fondse) te koppel aan die dorpspan deur middel van 'n borgskap.
Raadsheer Levendal wys daarop dat Mosselbaai se onderskeie rugbyspanne tot nog toe altyd baie goed in die bestaande ligas presteer het, en dus 'n baie goeie kans het om 'n oortuigende indruk te maak in die nuwe liga.
Belangstellendes word genooi om Jacques Saayman, die SWD-koördineerder vir Mosselbaai (082 583 2501) te kontak oor moontlike borgskappe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'