Daar word tot 60 klubrugbywedstryde per naweek in die SWD gespeel en die verto-ning van skeidsregters word dikwels onder die loep geplaas.
Die werksessie by Eagle's Nest Ministeries in Pacaltsdorp, George, was die gevolg van `n voorstel deur een van die klubs tydens `n streekvergadering vroeër vanjaar.
Volgens Hennie Baartman, president van SWD-rugby, is die platform geskep vir elk-een om hul griewe en kommer te lig sodat daar gesamentlik na oplossings gesoek kan word. "Ons het die afgelope jare goeie en mooi (klubrugby) kompetisies aangebied. Ons moet nie die punt bereik waar kompetisies afgestel moet word omdat skeidsregters die teiken van geweld word nie," het Baartman gesê.
In 2006 het die unie se skeidsregters gestaak ná voorvalle van geweld tydens klubwedstryde. Klubrugby in die Oostelike Provinsie is verlede naweek gestaak nadat die unie se skeidsregters gestaak het. Die Boland het ook vanjaar soortgelyke voorvalle ervaar. Die moontlikheid dat soortgelyke stakings na ander unies kan uitkring is glo `n groot moontlikheid.
"Verhoudinge is die sleutel tot vooruitgang," het Baartman gesê. Hy het dit ook betreur dat nie alle klubs die moeite gedoen het om die beraad by te woon nie. "Amptenare van klubs moet `n voorbeeld stel vir hul lede en ondersteuners. Ons kan die platform skep, maar as klubs nie daaraan deelneem nie en dan Saterdae ongedissiplineerd optree moet hulle verstaan as die unie standpunt inneem."
Op sy beurt het James Speelman, voorsitter van die SWD-skeidsregtersvereniging, gemaan dat skeidsregters ook menslike foute maak. "Wees versigtig voor julle skeidsregters kritiseer," het Speelman gesê.
Die kompleksiteit van die sport en rugby reëls is onlangs onderstreep toe die televisiekanaal, SuperSport, se rugbykommentators `n reëltoets afgelê het. Die hoogste puntetotaal wat behaal is, was 11/20. Die gemiddelde puntetelling was 7/20 en die laagste 2/20.
Verteenwoordigers van rugbyklubs en SWD-bestuurslede ná afloop van verlede Saterdag se werksessie waartydens skeidsregterkwessies bespreek is. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'