TUINROETE NUUS - Plaaslike klubrugbyliefhebbers sal vir eers verlief moet neem dat die vooruitsigte om hul onderskeie spanne in aksie te sien vanjaar, bitter skraal is.
SWD het vandeesweek in 'n verklaring aangedui dat weens die voortslepende Covid-19-pandemie in die land, en veral die Suid-Kaap, geen klubrugby gespeel mag word nie.
"Ons rugbyklubs het vroeër vanjaar besluit om geen klubrugby te speel nie. Hierdie besluit is nie hersien nie en die status quo bly dus. Die SWD-seniorvrouespan kon ook geen van hul beplande wedstryde speel nie weens sporadiese positiewe Covid-19-uitslae. Hul eerste wedstryd teen Griekwas is ook gekanselleer omdat laasgenoemde nie kon speel nie.
"Die enigste span wat tans aktief is, is die SWD senior mans (Arende) wat hul verantwoordelikhede in die Curriebeker A- afdeling nakom. Die Arende word tans weekliks aan Covid-19-toetsing onderwerp. Ons het 'n aantal positiewe uitslae in die span gehad en dit het daartoe gelei dat sommige wedstryde volgens Saru Covid-19-protokolle gekanselleer is. Ons het nog twee wedstryde oor, Grens tuis en dan EP weg," lui die verklaring.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'