MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong sportman van Laerskool Hartenbos, Morné Scheepers (13), het gedurende die laaste twee jaar die unieke prestasie behaal om provinsiale kleure te verwerf in bykans alle sportkodes waaraan hy deelgeneem het.
Gedurende 2016 verwerf hy SWD-kleure in atletiek (spiesgooi), sowel as tennis.
Hier het dit egter nie opgehou nie, en vanjaar bou Morné op hierdie prestasie voort deur lid te word van sy skool se 360kg-toutrekspan wat deurdring na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in die Strand. Sy span het algeheel in die vierde plek geëindig. Slegs twee dae later neem hy deel aan die finale hokkieproewe in Knysna, en verwerf ook SWD-kleure.
Kort hierna word hierdie merkwaardige sportman genooi na die finale SWD-rugbyproewe in Worcester, en word hy gekies op losskakel vir die SWD XV-tal rugbyspan om SWD te verteenwoordig in Sasolburg by die Nashua-rugbyweek gedurende die Julie-skoolvakansie. Tydens hierdie week wen SWD oortuigend teen die Luiperds van Noordwes-provinsie, en word Morné gekies as speler van die wedstryd.
As beloning, en sekerlik die hoogtepunt van sy sportloopbaan, word Morné genomineer as Eden-sportraad se laerskole sportman van die jaar 2017.
Die kriteria vir hierdie toekenning is veelsydigheid. Hy word gekies as finalis tydens die gala-aand in Riversdal. Hierdie beskeie jong sportman meen egter dat geen van hierdie prestasies moontlik sou wees sonder die ondersteuning van sy spanmaats nie daarom dra hy sy prestasies aan hulle op.
Morné word volgende jaar 'n leerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal. Hy is die seun van Ferdi en Lizelle Scheepers van Hartenbos.
Morné Scheepers
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'