TUINROETE NUUS - As die SWD Arende rugbyspan bergklimmers was, het die berg Everest vir hulle gewag. 'n Steil en harde klim wag nou vir die span in die 1ste divisie van die Curriebekerreeks.
Op papier moes hulle al drie wedstryde gespeel het, maar net een daarvan het plaasgevind. Die Arende het ongelukkig hul eerste wedstryd in die reeks op 18 Junie teen die Valke met 17-50 verloor en daarna is die twee volgende wedstryde, teen die Luiperds en die Griffons, afgestel omdat van die spelers Covid-19 positief was.
Dit beteken dat die span nog geen reekspunte kon insamel in die Curriebeker kompetisie nie. Daar is net ses wedstryde in die reeks.
En nou wag Boland die komende naweek in Wellington.
Eddie Myners, afrigter van die Arende, het gisteroggend, 7 Julie, bevestig dat die wedstryd voortgaan. Vier spelers en twee bestuurslede is in selfisolasie en is nie in aanmerking geneem vir Saterdag se wedstryd nie. Die Arende sal wel 'n span op die veld hê en vertrek Vrydag na Wellington.
Ondanks die terugslae is Myners nie op moedverloor se vlakte nie. Hy het gesê alles is nie verlore nie. "Ons kan nog by die agterdeur inglip."
Hy het benadruk die span neem dit nou wedstryd vir wedstryd. "Ons moet sorg dat ons goed doen in die oorblywende wedstryde."
Nieteenstaande die terugslae is die spangees steeds baie goed. "Die spelers weet dis dinge waaroor hulle nie beheer het nie. Die manne is baie honger om te speel."
Myners het geen illusies oor wat in Wellington wag nie. "Boland het 'n goeie gevestigde span," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'