GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier-rugbyklub se reeks onoorwonne wedstryde in die SWD Superliga A het verlede Saterdag tot 'n einde gekom.
Dié span het op sy tuisveld, die House of Pain, met 38 - 44 teen Bridgton verloor.
Die besoekers het van vroeg af die tempo bepaal en voordeel uit verskeie ongedwonge foute deur die tuisspan getrek.
Bridgton se aanvallende spel en doel-treffende afronding het hulle in staat gestel om gereeld die voordeellyn oor te steek, terwyl Groot-Brak se verdediging onder druk geknak het.
Teen rustyd was die Brakkies 14 - 29 agter en het dit gelyk of Bridgton die wedstryd stewig onder beheer gehad het.
Groot-Brak het egter in die tweede helfte met groter dringendheid gespeel en hard geveg om die agterstand uit te wis.
Tyrese Michaels, ofte wel die ‘Toekoms Express’, steek die doellyn vir Groot-Brak oor. Foto: Owen Sports Photography
Ondanks hul terugvegpoging kon hulle nie die gaping toemaak nie. Bridgton het uiteindelik die wedstryd met ses punte gewen.
Na afloop van die wedstryd het Groot-Brak se kaptein, Marquin Smart, erken dat sy span nie op hul beste was nie. "Ons verdediging was nie waar dit moes wees nie en ons het te veel foute gemaak. Ons sal die lesse hieruit neem en fokus op die volgende uitdaging."
Groot-Brak se Roshwin Abrahams mik vir die pale. Foto: Owen Sports Photography
Ten spyte van hierdie nederlaag bly die Brakkies stewig in die stryd om 'n gunstige uitspeelposisie. Hulle beklee tans die derde plek op die punteleer met 45 punte, drie punte agter die verdedigende kampioene, die Evergreens, terwyl Bridgton met 47 punte in die tweede plek lê.
Groot-Brak reis komende naweek na George waar hulle teen Progress op Roelcorpark te staan sal kom. Dié wedstryd dra groot gewig, aangesien 'n oorwinning die Brakkies se plek in die topagt verder kan verstewig en hul kanse op 'n halfeindstryd tuis aansienlik verbeter.
Die klub se B- en C-span het rede tot vreugde gehad. Die B-span het Bridgton met 15 - 14 geklop, terwyl die C-span 'n oortuigende 24 - 0-oorwinning behaal het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’