RUGBYNUUS - Mosselbaai se Barbarians rugbyspan het nog een kans om verlore aansien te herwin ná Blanco ook die afgelope Saterdag op sy tuisveld beter daaraan toe was deur die Babaas met 24-11 in 'n Superliga A-klubwedstryd van die Suidwestelike Distrikte (SWD) te klop.
Dinge is regtig besig om uitmekaar te val vir die Barbarians ná hulle die seisoen aanvanklik baie goed afgeskop het.
Met die jongste nederlaag het die Babaas op die punteleer nog verder teruggesak en beklee dié span nou die sesde posisie. En dít ná die Babaas vroëer die seisoen nog stert in die lug was en onder die voorste spanne geboer het.
Op 'n nat en swaar veld was die besoekers met slegs 8-9 agter teen Blanco, maar met die tuisspan wat in die tweede helfte drie keer agter die doellyn van die Babaas gaan kuier het, is die fut heeltemal uit die Babaas gehaal, wat slegs 'n enkele strafdoel kon byvoeg ná die rustyd.
Vir die Barbarians se tweede en derde spanne is dinge egter nog steeds goed op dreef ondanks die feit dat die derdes ook met die kous oor die kop huistoe gestuur is. Die tweedes was met 15-7 baas terwyl die derdes met 10-14 aan die ontvangkant was. Beide spanne behou egter hulle eerste posisies op die punteleer.
Hoe gaan die Babaas uit dié gat kom?
Daar is net een manier en dis om vuur met vuur te beveg wanneer die Barbarians Saterdag op D'Almeida Park teen die SWD se klubkampioen, Crusaders, te staan kom.
Dié wedstryd sal 'n einde bring aan die eerste ronde van dié kompetisie en 'n sege kan die Babaas weer op koers kry om die tweede ronde met vertroue aan te durf.
Dit gaan 'n moeilike een wees. Crusaders is nie om dowe neute die klubkampioen nie, maar as die vaste manne die grondslag kan lê om die Babaas se dartelende spoedvrate in die agterlyn 'n halwe geleentheid te kan gee om aan die gang te kom, is enigiets moontlik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’