MOSSELBAAI NUUS - ’n Span wat die rugbypubliek se verbeelding vir die 2025-rugbyseisoen aangegryp het was beslis die Barbarians se B-span.
Die afrigtingskorps van dié span, onder leiding van Raimothy du Preez (alias ‘Coach Morty’) moet krediet kry vir die manier hoe hulle hierdie span as ’n eenheid saamgesnoer het.
In Saterdag se semifinaal in Pacaltsdorp het Babaas gewys waarom hulle as die gunstelingspan opgedaag het - hulle het vir Bridgton met 31 - 25 geklop.
Babaas het die Oudtshoorniete vanaf die afskop van hul voete af gehardloop. Bridgton met hul swaarder agttal kon nie hul stempel voorlangs afdruk nie.
Dit was die Barbarians wat in die vaste fasette die botoon gevoer het. Hulle kon by tye met goeie rolmaalbewegings oor die voordeellyn kom. Van hier af het Babaas se agterlyn met goeie balbesit hul teenstanders in trurat gehad en het drie keer die doellyn oorgesteek.
Bridgton het egter self ook drie maal oor die doellyn getree, maar dissipline het hulle gekelder. Nigel Prins (Babaas-losskakel) het dit in punte omskep en daarmee die Barbarians van ’n oorwinning verseker.
Babaas kom in die eindronde teen Progress te staan.
Dié einste Barbarians het verlede jaar teen Heidelberg in die eindronde vasgeval.
Die C-span, wat ook teen Bridgton te staan gekom het, moes aan die einde van ’n spannende wedstryd die knie met 8 - 18 buig. Hulle moes by drie geleenthede in die eerste helfte gaan druk het, maar afronding het ontbreek. Die opponente het hul kanse beter benut en twee drieë teenoor Babaas se een gedruk.
Die C-span se eindronde word tussen Bridgton en Progress beslis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’