MOSSELBAAI NUUS - Hoewel te laat, het die Barbarians verlede naweek seker gemaak hulle verdedig hul eer op D’Almeidapark.
Babaas en Pacaltsdorp se Evergreens het mekaar voor ’n groot skare die stryd aangesê - en Babaas het met 39 - 26 dié stryd hulle s’n gemaak.
Hierdie oorwinning was egter nie goed genoeg om die Barbarians te laat kwalifiseer vir die 2025-uitspeelronde nie.
Die spanne wat nou saam met Evergreens vir die uitspele kwalifiseer is Heidelberg, Bridgton en Progress, wat verlede week hul wedstryde met bonuspunte gewen het.
Saterdag was beslis een van Babaas se beste vertonings vir die seisoen. Vanaf die afskop het Babaas met skitterende aanvallende spel die Evergreens onder druk geplaas.
Die tuisspan se taktiek was een te veel vir die besoekers. Babaas se agttal het nie vir die swaarder eweknie van Evergreens teruggestaan nie en verdien ’n pluimpie vir hul goeie samespel in die vaste fasette, asook by die afbreekpunte.
Die besoekers was ook by tye gevaarlik op die aanval, maar Babaas se verdediging het gehou.
Gedurende die eerste helfte kon die Evergreens slegs een keer gaan druk teenoor Babaas se vyf kuiers agter die doellyn. Teen halftyd was die telling 33 - 7.
In die tweede helfte het die besoekers stelselmatig hul stempel begin afdruk toe die Barbarians se dissipline hulle in die steek begin laat het. Met drie geel kaarte vir Babaas kon die Evergreens nog 19 punte byvoeg.
Hulle lot is egter geseël toe Babaas nog ’n drie aangeteken het, wat hulle as oorwinnaars van die veld laat stap het.
Uitblinkers onder die Barbarians is daar te veel om te noem - dit was ’n spanpoging. Aan Evergreens se kant het hul kaptein, Leighton van Wyk, ’n barshou gespeel.
Die Barbarians se puntemakers: Wynandré Human (kaptein), Esra Matroos, Cashwell London, Qurin Cupido, Richyano Simmons en Eljaro Fleur het elk ’n drie gaan druk, terwyl Dewanley van Rensburg met drie doelskoppe en een strafskop geslaag het.
Die Barbarians se B- en C-spanne het onderskeidelik met 39 - 10 en 22 - 14 gewen. Die B-span is verseker van ’n plek in die halfeindronde.
Eerskomende naweek speel die Barbarians in hul laaste ligawedstryd op D’Almeidapark.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’