MOSSELBAAI NUUS - Die Mic Fin Barbarians se tuisveld, D’Almeidapark, het verlede Saterdag ’n spannende wedstryd tussen Babaas en Progress gehuisves.
Die tuisspan het die wedstryd met 33 - 27 gewen, maar hul pad om die uitspeelronde te haal is nog steeds steil.
Beide spanne het vanaf die afskop aanvallende rugby gespeel, maar goeie verdediging het die aanvalle in die kiem gesmoor.
In teenstelling met Babaas se vorige wedstryd was daar ’n groot verbetering in hul verdedigingslinie. Dít het handig te pas gekom toe hulle die besoekers daarvan weerhou om in die doodsnikke ’n wendrie te druk.
Babaas het vier keer agter die doellyn gaan kuier, teenoor die besoekers se drie keer - hul voorspelers het die platform vir hierdie oorwinning geskep. In die vaste fasette, veral in die skrums, het hulle Progress by tye op die agtervoet gehad.
Babaas se kaptein, Wynandré Human, het vroeg in die eerste helfte oorgegaan vir vyf punte na ’n goeie rolmaalbeweging by die doellyn. Hierna het Babaas twee strafskoppe afgestaan, wat Progress deur die pale geklits het.
Edgar Syfers, die veelsydige agterlynspeler van Babaas, kon ná goeie hanteerwerk op sy beurt tussen die voor- en agterspelers die hoek vir ’n drie uitsoek.
Barbarians se Edgar Syfers (losskakel) lê aan pale toe. Foto: Dvandré Jordaan Photography
Jason Jonas (heelagter) het Babaas se voorsprong verder gerek toe hy met ’n strafskop geslaag het. Teen halftyd was die telling 13 - 6.
Beide spanne het hardlooprugby in beide die helftes uitgehaal.
Progress, wat nie in die eerste helfte ’n drie kon druk nie, was by tye die meer aanvallende span en het goeie aanvalslyne gehardloop. Dit was net ’n kwessie van tyd voor die damwal sou breek - die besoekers het twee keer agter Babaas se doellyn gaan kuier en albei drieë verdoel.
Danny Abrahams, Babaas-flank en speler van die wedstryd, het nog vyf punte op die telbord geplaas; Elhmere Claassen (stut) het dieselfde gedoen. Syfers was suksesvol met die twee doelskoppe.
Danny Abrahams, speler van die wedstryd, op pad doellyn toe. Foto: Dvandré Jordaan Photography
Met die telling op 27 - 20 het Babaas die oowinning in hulle visier gehad. Syfers het verder sout in Progress se wonde vryf toe hulle met nog twee strafskoppe slaag.
Progress het egter nie gaan lê nie en het teruggeveg met ’n verdoelde drie van hul eie.
Met die telbord op 33 - 27 kon die wedstryd nog enige kant toe swaai.
In die doodsnikke van die wedstryd het Progress op Babaas se doellyn geboer, maar rotsvaste verdediging het hulle pogings gestuit.
Saterdag was die Barbarians se tweede oorwinning oor Progress vir die seisoen.
Babaas se B-span het met 26 - 14 gewen, terwyl die C-span met 18 - 19 vasgeval het.
Hierdie Saterdag meet Barbarians teen die Brakkies in House of Pain kragte. Dit is ’n maak-of-breek-wedstryd. Wie dink jý gaan wen? Sê jou sê op Mossel Bay Advertiser se Facebook-blad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’