MOSSELBAAI NUUS - Blanco was nog altyd ’n harde neut om in Die Gaatjie te kraak, maar verlede Saterdag moes hulle die knie teen Barbarians buig en het met 22 - 30 op hul tuisveld verloor.
Teen rustyd was die telling 18 - 10 in Babaas se guns. Die tuisspan se dissipline het hulle gekniehalter. Hulle is herhaaldelik vir ongeoorloofde spel gestraf, wat punte in Babaas se sakkie beteken het.
Hier moet Edgar Syfers (losskakel) en die veelsydige agterspeler Dewanley van Rensburg ’n klop op hul skouer kry. Hulle was ’n nagmerrie vir Blanco en het ’n 100%-strafskopslaagsyfer gehad.
Syfers is deur Van Rensburg in die tweede helfte weens ’n besering vervang, maar nie voor hy in die eerste helfte ses strafskoppe deur die pale gejaag het nie. Sy kantlynskoppe was ook uitstekend en het Blanco gereeld laat omdraai.
Babarians het goed in die vastelos vertoon ten spyte van ’n paar beseerde sleutelspelers, maar hulle was minder effektief in die lynstane.
Blanco, met ’n paar SWD-spelers in hul geledere, het nogtans vanaf die afskop druk op die besoekers geplaas met goeie aanvallende spel. Hulle het vroeg in die eerste helfte Babaas se doellyn oorgesteek na goeie hanteerwerk tussen voor- en agterspelers. Babaas moes self een of twee keer in die eerste helfte gaan druk, maar afronding het ontbreek.
Met hul voorsprong op 18 - 10, is die Barbarians die tweede helfte sonder hul kaptein, Wynandré Human (slot), in. Hy het kort voor rustyd ’n skouerbesering opgedoen.
Die tuisspan het gedink hulle sou hierdie situasie kon uitbuit, maar het hulle misreken.
Die waarnemende kaptein, Mornay Mkwayi (haker), die alomteenwoordige Christiaan Pretorius (flank) en Shernan Josephs (slot) het ’n barshou gespeel en Blanco se swaargewigte in hul spore gestuit.
Blanco se dissipline het hulle ook in die steek gelaat en die skeidsregter het nie geskroom om hulle te straf nie.
Babaas se Van Rensburg was in die kol met vier strafskoppe, wat ’n goeie voorsprong aan sy span besorg het. Blanco het teruggekom en twee keer gaan druk, maar die skrif was reeds aan die muur.
Met hierdie oorwinning is daar nog skrale hoop dat Babaas die uitspeelrondes kan haal, maar dan sal hulle ’n berg moet uitklim.
Babaas is tans in die vyfde posisie en moet in hul laaste twee wedstryde tien punte optel. Die vraag is egter wie van Heidelberg (tans tweede), Progress (derde) en Bridgton (vierde) gaan hul laaste twee wedstryde verloor?
Barbarians se B-span het met 27 - 30 verloor, maar is nog steeds in die eerste posisie op die punteleer. Die C-span het gelykop gespeel met 10 elk.
Wedstryde word weer op Saterdag 30 Augustus hervat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’