Gallery
RUGBY NUUS - Selfs die getrouste SWD Arende ondersteuners sou seker voor Vrydagaand, 29 September, geen twyfel gehad het oor wie die opwarmingswedstryd tussen die Arende en die Stormers sou wen nie.
Die Stormers het uiteindelik wel 64 - 26 op Outeniquapark gewen, maar 'n maklike oorwinning was dit nie. Die Arende het vriend en vyand verras.
Dit was 'n fisieke wedstryd en beide spanne het by tye behoorlik ingeklim. Vir spelers in beide spanne was daar baie op die spel. Hulle wou wys dat hulle 'n plek in die onderskeie spanne verdien.
Rustyd was die telling 38 - 14 in die guns van die Stormers. Die Arende het vier keer agter die doellyn gaan kuier. Kort voor die einde van die wedstryd het Burton Booysen van die Arende 'n skitterende drie gaan druk en die skare op hul voete gehad.
Een van die Stormer-spelers, wat baie aandag getrek het, was Warrick Gelant. Hy was op die plaasvervangerbank. Toe hy opgestuur is, was die skare baie beïndruk. Ook na die wedstryd wou baie met hom gesels. Dis te verstane want hy kom oorspronklik van die gebied.
Hy het na die wedstryd aan George Herald gesê dit was baie spesiaal om weer op Outeniquapark te speel.
FOTOGALERY: Opwarmingswedstryd tussen die Arende en die Stormers
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende het Dinsdag gesê dis verblydend dat die span so goed saamgespeel het as in ag geneem word dat hulle slegs 'n kort tyd voor die wedstryd saamgekom het.
Die Arende het fisiek gespeel in die eerste helfte en dit goed hanteer. Daar was beslis positiewe aspekte in die wedstryd. Hy glo die span het genoeg gedoen om die plaaslike toeskouers te oortuig dat hulle goeie rugby speel en hulle ondersteuning verdien.
Die span wil seker maak dat hy verbeter en nou die fondamente lê vir volgende seisoen.
Die Arende gaan onder meer meeding in die SA Cup. Die kompetisie is op 'n ander vlak en daar wag groot uitdagings oor verskeie aspekte.
Moolman glo die span is nou in 'n beter posisie as verlede jaar die tyd. Hy is in die geheel gelukkig met die situasie en die span is nou besig om voor te berei vir Vrydag se wedstryd teen 'n WP XV. Die wedstryd begin om 15:30.
Hy glo baie van die Stormers se spelers wat Vrydagaand teen die Arende gespeel het sal in die WP-span wees.
Die hoofwedstryd tussen die Sharks en die Stormers begin om 18:00 hier op Outeniquapark. Die hekke open om 13:00 en daar is 'n voorwedstryd tussen twee laerskoolspanne om 14:00.
Vorige artikel: Begeesterde ARende besorg Stormers hoofbrekens
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’