MOSSELBAAI NUUS - Die Phangela Arende se rugbyspan van die Suidwestelike Distrikte (SWD) het die afgelope Vrydag, 1 Desember, in die D'Almeida Stadion op Mosselbaai 'n baie gewillige Varsitybeker-span van CUT met 34-17 geklop ná die tuisspan met die rustyd 'n voorsprong van 22-12 geniet het.
Dit was die Arende se laaste opwarmingswedstryd van die jaar voor hulle eerskomende Donderdag, 14 Desember, uitmekaar spat vir die Kersseisoen om by hulle families deur te bring.
Anton Moolman, breier van die Arende, sê dit was 'n wedstryd wat hy en sy spelers baie geniet het. Veral ook omdat die studente baie na die tafel gebring het. "Die outjies het met 'n lekker positiewe gesindheid gespeel en ons behoorlik in sekere areas getoets," het hy gesê.
Die afrigter het meeste van sy senior spelers laat rus en die jonger ouens die kans gegee om hulle hande op te steek.
"Dit was verblydend om te sien hoe die ouens al hoe meer met vertroue begin speel. Daar was ook verskeie goeie dinge wat gedoen is met fases wat bymekaar gesit is en die telling kon heelwat hoër gewees het as ons by 'n paar geleenthede net die laaste aangee onder beheer kon hou. Maar ek was in die algemeen heel tevrede met wat ek gesien het en dis duidelik die ouens begin al hoe meer verstaan wat ek op die veld gedoen wil hê," het hy gesê.
Die lynstane was volgens die breier die een area van die Arende se spel wat vir hom ongelooflik goed gewerk het. Drie van die Arende se drieë is van lynstane aangeteken en dit was vir hom duidelik die ouens is besig om mekaar behoorlik te vind in die afdeling en daar is 'n lekker ritme aan die gang as die spelers vorentoe beweeg ná 'n lynstaan.
"Die klomp studente het ons ook lekker op die verdediging getoets. In tipiese studente-styl het hulle nie geskroom om van enige plek op die veld aan die hardloop te gaan en dit het ons soms onder groot druk geplaas, maar die spelers het goed gehou en by hul lyne gebly en nie paniekerig geraak nie," het hy gesê.
Met die bonus vakansiedag op Vrydag, 15 Desember, danksy die Springbokke se oorwinning en suksesvolle verdediging van die Webb Ellis-trofee die einde van Oktober in Frankryk, sal Moolman se groep nog tot en met Woensdag, 13 Desember, deur hul passies gaan op die oefenveld voor hulle uiteindelik vir drie weke se jolifikasie huiswaarts keer.
Moolman sê egter elkeen van die spelers sal 'n volledige oefenprogram kry waaraan hulle sal moet werk terwyl hulle met "verlof" is. Hulle sal ook net voor hulle vertrek almal geweeg word en wanneer hulle op die 8 Januarie weer bymekaarkom sal dieselfde oefening hom weer herhaal.
"Ons wil darem net seker maak daar kom nie te veel van daai Kerspoedings om die heupe terug wanneer hulle weer inval nie," het hy skertsend opgemerk.
Vir die Arende het Keano Hendricks, Thoubaan Gabriels, Marlo Weich, Darryn Fortuin, Steph Leonard en Hilton Kamanda agter die doellyn vir vyfpunters gaan kuier. Weich was met twee doelskoppe suksesvol.