MOSSELBAAI SPORTNUUS - Volgens die organiseerders van die Ysbeer 2020, 'n aanlynswemkompetisie, was dit 'n reusesukses ten opsigte van die hoeveelheid swemmers, deelnemers se geesdrif, die wydverspreide deelname en die logistieke ondersteuning wat hulle van oraloor ontvang het.
Deelnemers het landwyd aangetree met stede en dorpe soos Bloemfontein, Kimberley, Johannesburg, Welkom, Virginia, Odendaalsrus, Kroonstad, Orkney, Sutherland, Komatipoort, Kriel, Brits asook Mosselbaai wat elk sy eie "ysbeertjies" opgelewer het. Selfs vanuit Kent (Engeland) het 'n pa en seun deelgeneem.
Alizia en Rudy Hopley, Lorette Binneman en Chris van der Berg het op Saterdag, 27 Junie, hulle staal gewys deur wind en weer in Mosselbaai aan te durf. Na Alizia en Lorette 10km vanaf die Engen-vulstasie in Hartenbos tot by die Punt in Mosselbaai gestap het, het hulle saam met die twee mans in die Poort geswem.
Op Vrydag, 26 Junie het Alizia en Lorette eers besluit om beide die swemuitdaging asook 'n Atletiek Griekwaland-Wes se virtuele wedloop aan te pak.
'n Totaal van 173 deelnemers landwyd het die swemuitdaging in die dag aangedurf en vyf brawes, het die middernagswem kafgedraf.
Beide dag- en aandswem het gepaard gegaan met ysige temperature en baie koue water. So min soos 4 gradeCelcius is op sommige plekke gemeet en elders meestal 7 grade Celcius. Wat die middernagswem betref is daar op plekke 3 en 4 grade Celcius buitetemperatuur gemeet met 'n ysige westewind.
Daar was sterk kompetisie in die afdeling vir die beste kostuum asook die beste gees.
Uiteindelik het die Ras- en Meiring-familiepoging Sutherland uitgestof vir die beste gees. Die besgeklede kategorie is deur Mosselbaai se deelnemers verower. Heleen Klopper van Bloemfontein het met die louere weggestap vir beste individuele kostuum. Van die beloofde R10 000, is reeds R5 000 vir liefdadigheid ingesamel.
Die organiseerders hoop om volgende jaar weer die ware Jakob aan te bied saam met 'n virtuele opsie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'