MOSSELBAAI SPORTNUUS - Groot opgewondenheid heers onder plaaslike toutrek-entoesiaste dat die 2026 wêreldtoutrekkampioenskappe moontlik hier plaaslik in die Mosselbaai-omgewing aangebied gaan word.
Suid-Afrika, Swede en Italië is tans as moontlike gasheerlande op die kortlys.
Finale aanbiedings word Vrydag 16 April, tydens 'n virtuele wêreldkongres aan al die lidlande van die Internasionale Toutrekfederasie (TWIF) aangebied waarna die stemproses Saterdag 17 April, sal plaasvind om die gasheerland te bepaal.
TWIF bestaan uit 73 lidlande met die top 20 toutreklande wat gewoonlik aan die wêreldkampioenskappe deelneem.
Daar is tans 13 gewigskategorieë waaraan daar by 'n wêreldkampioenskappe deelgeneem gaan word. Dit sluit o/19s, o/23s, vroue, mans en gemengde afdelings bestaande uit vier mans en vier vroue, in.
Sowat 3 500 mense sal na verwagting die kampioenskappe bywoon waarvan sowat 1 200 atlete en ondersteuners van die buiteland is. "Hierdie sal uiteraard 'n groot finansiële inspuiting vir die plaaslike gemeenskap wees. Meeste lande 'kuier' gewoonlik 'n bietjie langer na afloop van so 'n kompetisie en plaaslike safariplase, restaurante en ondernemings sal flink sake kan doen," sê Anton Botha, president van SA Toutrek.
"Ek is optimisties dat Suid-Afrika suksesvol sal wees met hul bod," sê Botha. Benewens die ATKV-oord, word beoog om die TWIF-beamptes by Dias Hotel te akkommodeer. Verder sal plaaslike gastehuise ook ruim baat vind by al die ondersteuners wat die kampioenskappe gaan bywoon."
Suid-Afrika was sedert 1976 al by vyf geleenthede die gasheerland vir die wêreldtoutrekkampioenskappe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'