Video
HARTENBOS NUUS EN VIDEO - Agt internasionale spanne met 150 blinde-rolbalspelers het tussen 5 en 16 Maart in Australië aan die Wêreld-kampioenskappe vir visueel-gestremdes deelgeneem.
Eben Fourie (70) en sy gids Charles Collen (66) van die Hartenbos-rolbalklub, het 'n brons-medalje in die B4-kategorie vir blinde-rolbal-spelers verwerf.
Die Suid-Afrikaanse span het uit agt blinde-rolbalspelers en hul agt gidse bestaan. Hulle moes vanjaar, vir die eerste keer sedert 2011, die algehele wenners-trofee met slegs nege punte aan Australië afstaan wat as die 2023 wêreldkampioen gekroon is.
Die span spog met drie goue, drie silwer en twee brons medaljes.
Die kompetisie het by Tweed Heads Rolbalklub, suid van Brisbane aan die goue kus van Australië plaasgevind. Ten spyte van die hitte, humiditeit en somerstorms het die spelers rolbal van wêreldgehalte gelewer.
Fourie en Collen het Maandag, 20 Maart, kort na hulle by George-lughawe geland het, boodskappe aan Mossel Bay Advertiser gestuur.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring ons het dit baie geniet en rolbal van 'n baie hoë standaard is gespeel. Dit is 'n ervaring en 'n absolute belewenis om te sien hoe hierdie gestremdes rolbal kan speel," vertel Collen.
Hy was voorheen al saam met Fourie oorsee en is elke keer baie beïndruk met die vermoëns van die gestremde spelers.
Puik toernooi
Fourie het bygevoeg: "Ek is bly om terug te wees in Suid-Afrika. Ek het 'n bietjie gesukkel met die omstandighede. Die rolbalbane was puik en die klubhuise is van 'n uitstaande gehalte en dit was 'n plesier om by Tweed Heads te speel. Die kameradie tussen die lande en alles het mooi verloop met 'n puik toernooi."
Die spanne wat deelgeneem het, was Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Maleisië, Engeland, Skotland, Israel en Hong Kong.
Visueel-gestremde rolbal word in vier kategorieë ingedeel: B1-spelers is totaal visueel-gestremd terwyl B2-spelers tussen lig en donker kan onderskei met beperkte visie van baie naby (byvoorbeeld, weens makulêre degenerasie). B3-spelers sien 'n bietjie meer en kan van enkel-verkykers gebruik maak om die kop te sien.
Die B4-spelers se sig is die beste, maar van die spelers kan net die helfte van die rolbalbaan sien. Sommige B4-spelers kan die kop sien, maar kan nie die balle om dit sien nie. Hierdie toestand word retinitis pigmentosa (tonnelvisie) genoem.
Eben het vriende van die omliggende gemeenskappe bedank vir hulle bydraes, hulp en donasies en ook vir die mense wat op verskillende maniere gehelp het om fondse in te samel wat dit vir hom en Charles moontlik gemaak het om aan die kampioenskappe deel te neem.
VIDEO - Fourie en Collen arriveer by die Hartenbos rolbalklub (Video: Jannie du Plessis).
In die B4-kategorie mans enkels het Australië goud gewen met Hong Kong silwer en Suid-Afrika brons.
Charles Collen links en Eben Fourie nadat hulle hul bronsmedalje ontvang het by die rolbal Wêreldkampioenskappe vir visueel-gestremdes in Australië.
Die Protea blinde-rolbalspan het vir die eerste keer in jare goud afgestaan aan Australië by die Wêreldkampioenskappe vir visueel-gestremdes en moes tevrede wees met die tweede plek. Foto's: Jannie du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’