Gallery
TUINROETE SPORTNUUS - Twintig drawwers van Mosselbaai was deel van 'n groep atlete wat op Saterdag, 13 Maart met dankbare en hier en daar seer harte hulle tekkies aangetrek om deel te neem aan die Two Cities Ultra Marathon.
Onder die hutsmerk #RunForYourPerson, het hierdie virtuele wedloop wat op enige plek landwyd aangepak kon word, die impak van Covid-19 as die fokus gehad.
Die doel van die wedloop was dat deelnemers dit hardloop ter wille van iemand wat Covid-19 oorleef het, om iemand te gedenk wat aan die virus gesterf het, vir diegene wat besonder blootgestel is soos gesondheidswerkers of dan sommer vir Jan en Alleman wat daagliks in die uitvoer van hulle pligte na alle waarskynlikheid met die koronavirus in aanraking kom.
Fotogalery: Two Cities Ultra Marathon
"Van ons deelnemers het iemand aan die virus verloor. Ons het uit volslae dankbaarheid vir die wat oorleef het en vir ons eie gesondheid gehardloop. Dis 'n voorreg om hierdie wedloop te kon doen," verduidelik Tracey van Niekerk, een van die deelnemers.
'n Groot aantal van die drawwers het die volle afstand afgelê, maar daar was ook die opsie om slegs 21km te hardloop. Die wedloop het op George begin en by die Caltex-vulstasie in Voorbaai ten einde geloop.
Sowat drie voertuie het deurlopend aan die deelnemers ondersteuning gebied. Volgens Van Niekerk was dít juis die hoofrede vir deelname - om mekaar te ondersteun.
"Toe ons by die Caltex kom, was die afstand 43km. Die laaste 2km moes ons maar 'n sirkelroete draf om die afstand op te maak." Van Niekerk vertel dat een van die deelnemers, Gerda Young 'n werknemer van die Life Bay View privaat hospitaal is.
"Sy is self 'n Covid-19-survivor en tot ons verbasing het sy die volle 45km klaargemaak," vertel Van Niekerk. Aangesien sy weet wat agter die skerms in gesondheidsorginstellings aangaan wat die bestuur van Covid-19 betref, het sy haar wedloop aan Life Bay View opgedra.
Deelnemers se stories is behoorlik aandoenlik, soos dié van twee susters Annette en Christelle Saayman wat te midde die Covid-19-tydperk, boonop kanker geklop het.
Ook dié van Rina van Schalkwyk wat haar wedloop aan haar skoonsus Sanet van Rooyen en kinders opgedra het. "Sanet en haar twee kinders het Covid-19 gehad. Hulle is Rina se heroes."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'