STILBAAI NUUS - Die wêreld se strafste rubberbootwedvaart het op 28 Desember in Plettenbergbaai begin en eindig op 31 Desember in die Strand - 'n afstand van 700 km oor vier moordende dae.
Die tweede been, van Mosselbaai tot in Stilbaai, het Maandag 29 Desember plaasgevind oor 'n afstand van 86 km. Alhoewel dit die kortste been van die wedvaart is, word dit allerweë beskou as een van die strafste.
Die uitdagende seetoestande, veral vanaf Gouritsmond tot in Stilbaai, het al menige jaer laat klippe kou, en seer lywe getuig daarvan.
Toeskouers het die strand by Lappiesbaai reeds vroegoggend volgepak in afwagting op die bote, en hulle kon hulle verlustig in die wêreldklas-hantering van die rubberbote.
Na dag twee is bootnommer M221, Eben de Bod en Dévan Marais, die algehele voorlopers met 'n tyd van 03:52:04.
Wehan Malan en Harry Erasmus in bootnommer 85 is kort op hulle hakke met 'n tyd van 03:58:35.
In die derde plek algeheel is Ayrton Martinengo en Dylan Burger in bootnommer 1 met hulle tyd 04:01:10.
Stilbaai se eie Emile Steyl en Juan Meynhardt in bootnommer M96 is ook stil-stil besig om hulle merk te maak en lê algeheel vierde met 'n tyd van 04:02:15.
Die Koning van die Branders was, soos in die verlede, 'n groot uitdaging en is kortgeknip toe een van die boeie se ankertoue losgeskeur het en seetoestande sodanig versleg het dat dit nie meer veilig was om voort te jaag nie.
Dag drie van die wedvaart, Dinsdag 30 Desember, is van Stilbaai tot in Struisbaai - 'n afstand van 161 km - met verpligte stoppe in Witsand en Arniston. Hopelik het die seer lywe sodanig herstel dat die jaers kan uitsien na 'n lekker oggend op die see.