MOSSELBAAI NUUS - Die MP Prinsloo-jukskeitoernooi is verlede Saterdag op Beaufort-Wes afgehandel. Met die dagtemperatuur van 40 C plus het die kraaie behoorlik gegaap.
Spanne vanuit die Wes-Kaap, te wete WP (Kaapse Wynlande (KWL)) vroeër Boland en Overberg (Caledon area); Eden (Suid-Kaap vroeër SWD); Noord-Kaap uit Kimberley se wêreld en ook vanuit die Oos-Kaap wat huidig Nelson Mandelabaai heet, het spanne ingeskryf.
In die A-, B-, C- en D-afdeling het die spanne mekaar behoorlik opgedreun. Dit was duidelik waar te neem aan die klein punteverskil tussen die spanne in die onderskeie afdelings.
Die tydsduur van wedstryde was slegs 55 minute wat uiteraard min tyd geskep het om nalatige foute te maak. Elke speler moes dus sy penne gooi en wanneer die punte die skoftelling van 23 nader, was daar met groot presiese en goeie oordeel gegooi om te verseker dat daar nie gebars word (telling meer as 23). Sodra 'n span die skoftelling van 23 behaal en die opposisie die skof nie kon uitwis nie, was daar groot vreugde onder die spelers in die wenspan.
Die strafste en mees uitmergelende wedywering was tussen die goed geoliede Eden-span en die WP, KWL en Noord-Kaap. Teen middagete was die uitslag op 'n mespunt gebalanseer. Op daardie stadium het Eden derde gelê, met KWL2 in die tweede plek en in die eerste plek Noord-Kaap.
Na middagete het Eden egter korte mette met Nelson Mandelabaai gemaak en twee skofte ingetrek om met 12 teen 3 punte te wen. Die laaste wedstryd van die dag teen KWL1 het ten gunste van Eden verloop totdat geweldige donderslae en weerlik met erge reënbuie die dag se spel beeïndig het.
Die Edenspan het goud gewen in die A-afdeling.
Dit dien vermeld te word dat na herstrukterering van jukskeidistrikte deur die Sportraad in samewerking met Jukskei Suid-Afrika kan Eden as die kleinste distrik met die minste klubs (slegs vier) en gevolglik, ook die minste aktiewe amptelike geregistreerde spelers gedateer word.
Tog het Eden wondere verrig en kon in die A-, B- en C-afdelings plekke verower en gevolglik ook medaljes.
Uitslae
Die finale uitslae is soos volg. Slegs die eerste drie plekke word aangedui.
A-afdeling:
1. Eden (61½ ); 2. Noord-Kaap (56½); 3. WP1 (55).
B-afdeling:
1. Noord-Kaap (69½); 2. WP2 (67); 3. Eden en nog twee spanne het elk 64 punte opgestapel.
C-afdeling:
1. KWL1 (64); 2. WP (64); 3. NMB (50).
D-afdeling:
1. KWL (58); 2. Eden (52); 3. Noord-Kaap(45).
Alle spelers van Eden word daaraan herinner dat die ligaprogram op Saterdag, 8 Februarie op Hartenbos voorgesit word met die trips (driespel) wedstryde.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'