MOSSELBAAI NUUS - Die wie's wie van die Mosselbaai-sportwêreld het op 19 Julie bymekaargekom om die toppresteerders onder hulle te vereer.
Die Mosselbaai-sportraad se toekennings streef daarna om erkenning te gee waar dit verdien word en dit sluit in afrigters, atlete en organiseerders vanuit verskeie sportkodes en -klubs.
Die aand is op 'n gepaste wyse afgeskop deur eer te betoon aan twee afgestorwe sporthelde, Khanya Mafuta en Hannes Steyn.
Mafuta is in 2022 oorlede en was 'n geliefde lid van die Skipper Foundation op Mosselbaai en 'n talentvolle jong seiljagvaarder. Steyn was tot en met sy afsterwe die Bestuurder: sportfasiliteite by die Mosselbaai-munisipaliteit en was geliefd in sportkringe vir sy bydrae tot dié wêreld.
Na 'n oomblik van stilte vir beide dié merkwaardige persoonlikhede, is daar erkenning gegee aan persone met lewenslange prestasies in sport.
Lewenslank
Marius Erasmus (rugby, krieket, atletiek), Nico Botha (rugby, krieket) en Martin Erasmus (rugby, krieket) is al drie in dié kategorie erken.
Nico Botha, Martin Erasmus en Marius Erasmus.
Volgende aan die beurt was die naaswenner en wenner van Sport Administrateur van die Jaar.
Die vereiste hiervoor was die uitbeelding van leierskap, passie, bereidwilligheid en toewyding om die bedrywighede en ontwikkeling van sport.
Die naaswenner is Roy Volkwyn, die sekretaris van die Groot-Brakrivier Rugby, en Earle Peterson, die voorsitter van die Sussex Krieketklub het hier met die louere weggestap.
Earle Peterson
Hierna het die jongelinge gevolg in die kategorie vir Nuweling van die Jaar.
Hiervoor moes hulle vir die eerste keer opslae gemaak het op die provinsiale of nasionale sporttoneel. Akeelah Mei met haar talente op die rugbyveld is hier die naaswenner, en Mia Botha met haar prestasies (plaaslik en internasionaal) in driekamp, vyfkamp en laser run is as wenner gekroon.
Akeelah Mei
Mia Botha
Volgende was die Afrigter van die Jaar. Die persone maak nie net 'n verskil in hul atlete se lewens nie, maar ook in die gemeenskap.
Charles Pieterse word hier as naaswenner erken vir sy rol in sokker.
Charles Pieterse
Rob Holden, 'n bekende naam in seiljagkringe, is as Afrigter van die Jaar aangekondig.
Holden is ook in die volgende kategorie, erkenning vir Tegniese Uitnemendheid as wenner aangekondig.
Holden se vrou, Elfie, het sy toekennings namens hom ontvang.
Die naaswenner hiér is Sunette Muller met 'n absolute passie vir netbal.
Sunette Muller
Gemeenskap
Sport Gemeenskapbouer van die Jaar en Vrywilliger van die Jaar is volgende aangewys, met Lazole Thole en Hannetjie Fourie wat onderskeidelik hier uitgeblink het.
Lazole Thole
Hannetjie Fourie
Hanlie Alberts was die naaswenner onder die vrywilligers.
Hanlie Alberts
'n Kategorie wat beslis die aandag trek is natuurlik die Skoolspan/Sportklub van die Jaar.
Hier stof die jongelinge die res uit met Laerskool Vorentoe wat as wenners uit die stryd tree.
Minay Botha ontvang die toekenning namens haar skool se Laser Run-span.
Groot Brak Rugbyklub is as naaswenners aangewys.
Groot Brak Rugbyklub is die naaswenners.
Steeds op die skoolfront, wen Isalathiso Primêre Skool die toekenning vir Ontwikkelende Skool/Klub van die Jaar.
Isalathiso Primêre Skool is die Ontwikkelende Skool/Klub van die Jaar.
Beslis ook 'n hoogtepunt van die aand was die aanwysing van die sportmanne en -vroue van die jaar.
Sportvrou/-man
Die Sportman van die Jaar met 'n Gestremdheid is Eben Fourie vir sy prestasie in rolbal.
Hannetjie en Eben Fourie.
Die Sportvrou van die Jaar met 'n Gestremdheid is Sihana van Deventer vir verskeie prestasies in atletiek.
Sihana van Deventer
Laerskool Sportvrou van die Jaar gaan aan Clarissa Steenekamp (boogskiet) met Minay Botha as naaswenner (driekamp en tweekamp).
Clarissa Steenekamp
Minay Botha
In die manne se kategorie wen Stantonio Karelse (rugby, atletiek) met Washe Louw (atletiek, krieket, rugby) as naaswenner.
Stantonio Karelse
Washe Louw
Onder die hoërskool sportvroue is die naaswenner Caitlin Rhoode (netbal).
Caitlin Rhoode
Tiche Frans, met haar uitstekende prestasie in krieket, stap hier met die toekenning weg en onder die manne is dit Rainier Claassen met sy skitterende skaakspel.
Tiche Frans
Raynier se ma ontvang sy toekenning namens hom.
En die heel beste vir laaste, die Sportman en Sportvrou van die Jaar.
Nadia Julies is by verskeie sporte, maar veral netbal betrokke. Dit het die naaswennerstitel aan haar besorg.
Nadia Julies
Onder die mans het Deacon Cooper se atletiekprestasie die erkenning van naaswenner aan hom besorg.
Deacon Cooper
Vir Sportvrou van die Jaar is dit weer eens 'n jongeling wat bo die res uitstyg. Clarissa Steenekamp het dié een beslis verdien.
Clarissa Steenekamp
Sportman van die Jaar gaan aan Daniël Swart, wat op internasionale vlak sy staal in potspel gewys het.
Daniël Swart
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’