TUINROETE NUUS - Die skuts was aangenaam verras met ’n reeks ‘nuwe’ skietposisies tydens die Suid-Kaap Jagters- en bewaringsvereniging (SJB) se laaste ghongskiet vir die jaar.
Dié geleentheid is op Saterdag 15 November op Henry en Martie van der Westhuizen se plaas, Aangenaam, buite De Rust aangebied.
Onder die tema ‘plaasimplemente’ moes die manne oor ’n padskraper, trekkerwiel, sleepwa, spilpunt en houtpalette aanlê en skiet.
Vier-en-tagtig skuts het ingeskryf en het in spanne van vier meegeding. Sommige skuts het van so ver as uit Kaapstad, Swellendam, Beaufort-Wes en Plettenbergbaai gery om deel te neem.
Dit was ’n koel dag in die Klein-Karoo, maar ’n warm kompetisie vir die deelnemers wat mekaar op ses ghongbane die stryd moes aansê. Staalplate met afmetings van 100 mm tot 200 mm moes oor afstande tussen 200 m en 420 m getref word.
Wynand Fourie, die SJB se voorsitter, het gesê die oudste plaasimplement was ’n vurk en graaf - daar en dan is dit ook sommer in ’n skietposisie geïnkorporeer.
Dis veral by hierdie baan waar die skuts met hulle innoverende maniere om ghongs te tref beïndruk het. Baanoffisiere van Riversdal, George, Mosselbaai en Oudtshoorn het die deelnemers en toeskouers se veiligheid by al die bane verseker.
Onder toesig van baanoffisiere Natie Fourie en John Fitzgerald word daar oor houtpallette geskiet.
Die dag is met ’n prysuitdeling afgesluit. Hein Botha het die wenspanne met medaljes en prysgeld beloon. Tydens die gelukstrekkings was daar ook ’n meevallertjie vir dié wat nie die beste dag op die baan gehad het nie.
Wenspanne
• Eerste: Hou Ons Dop - Renier van Greunen, Hugo Moolman, Martiens Bekker en Erik Zeelie, almal van George.
• Tweede: Team AHS - Danie Barnard (George), Deon van Tonder (Barrydale), Johan Delport (Swellendam) en Raynor Becker (Stilbaai).
• Derde: Die Roerbroers - Chris Kemp (Mosselbaai), Johan Kemp (Mosselbaai), Jaco du Plessis (Beaufort-Wes), André Barnard (Plettenbergbaai).
Chris Kemp tref die ghong se rand oor die trekker se band.
Die beste skut vir die dag, met ’n trefslag van 90%, was André Barnard (810), gevolg deur Christo Delport (780) van Sedgefield en daarna Johan Delport (720).
Die SJB het die Van der Westhuizens hartlik bedank. Hulle het nie net hulle plaas beskikbaar gestel nie, maar ook ingespring om dit ’n gesellige dag vir almal te maak.
Selfs ’n padskraper word vir dié kompetisie ingespan.
“Dank gaan ook uit aan Hein Botha wat die skietdag en die skuts kom ondersteun het. Laaste maar nie die minste nie word die bereidwillige baanoffisiere en punteverwerkers vir hulle harde werk die jaar bedank.”
Volgende jaar se beplanning is reeds gedoen en die kalenders sal eersdaags beskikbaar wees. Besoek die SJB-webblad by www.suidkaapjagters.co.za of skakel die kantoor by 044 693 2319 vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’