MOSSELBAAI NUUS - Dis weer voet in die hoek met reëlings vir vanjaar se Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees wat vanaf 16 September tot 12 Oktober sal plaasvind.
Volgens beplanning sal meer as 40 sportkodes vanjaar by die fees te siene wees, met ‘n paar nuwelinge wat beslis ook die aandag en nuwe voete na die geleentheid sal trek.
Verteenwoordigers van verskeie sportkodes het op 14 Julie in die munisipale raadsaal vergader om vanjaar se fees te bespreek. Die Mosselbaai-munisipaliteit fasiliteer die fees en bied ook al hul sportfasiliteite gratis aan sportkodes gedurende hierdie tydperk.
Feeste is een van die munisipaliteit se projekte om die plaaslike ekonomie te stimuleer en skakel in by die dorp se Groei-strategie.
Ou gunstelinge tydens die fees is ‘n verskeidenheid balsporte soos die Burgemeesterstoernooi gemik op landelike gebiede waartydens rugby- en netbalspanne mekaar op Brandwag sal pak, altyd ‘n treffer is. Basketbal is vanjaar deel van die fees, met gunstelinge soos sokker en krieket, onder meer die KFC-toernooi ook op die lys. Vir atlete is daar ook meer as genoeg om aan deel te neem, met padwedlope, ‘n Worpekompetisie en baanatletiek te kies en keur.
Moss March
Ook die Moss March het vanjaar ‘n nuwe baadjie aan as ‘n stranduitstappie vir die hele gesin. Boksentoesiaste kan gerus naderstaan en die karatekas gaan ook weer beïndruk met hulle roetines.
Wat waterverwante sport betref, word ‘n kampioenskap vir jong lewensredders beplan en kayakhengel is ook in die kaarte.
Strandspele met ‘n verskeidenheid aktiwiteite vir kinders word aangebied, juis gemik op ‘n teikengroep wat nie geleentheid kry om amptelik aan sport deel te neem nie. Dit sluit onder meer raakrugby en vlugbal in.
Nuut op die lys is beheerde geleenthede vir skaatsplankryers, asook ‘n mini-gholf- oftewel putt-putt-kompetisie, wat beide by die Punt aangebied sal word. Vir die adrenalienvrate is die immergewilde motorsport ook weer terug met onder meer wieltolkompetisies.
Van die programhoogtepunte sluit in die South Africa’s Toughest Firefighter Alive-kompetisie, wat reeds internasionale deelnemers gelok het. Te midde al die aksie, is die jongspan asook die oues van dae nie uitgesluit nie. Daar is spesiale sportaktiwiteite geskeduleer vir voorskoolse kinders, asook bejaardes.
Vir meer inligting kontak die kantoor van die direkteur van gemeenskapsdienste by (044 606 5007), of George Sikhona (sportontwikkelingsbeampte) by 044 606 5000, of stuur e-pos na smtotywa@mosselbay.gov.za
'n Paar van die verteenwoordigers van verskeie sportkodes wat die tweede vergadering van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees bygewoon het. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'