MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se o/17 span het Donderdag, 3 Augustus na Boksburg vertrek vir die nasionale netbalkampioenskappe.
Die toernooi, waar die beste netbalspanne uit verskeie hoërskole regoor die land en in hulle onderskeie ouderdomsgroepe deelneem, is altyd 'n uitdaging en hoogtepunt vir enige span wat daarvoor kwalifiseer.
Punt se o/17 span speel in hulle poel teen die volgende skole. Punt se tellings eerste:
vs Nelspruit 20-3
vs Klerksdorp 20-8
vs Sentraal (Bloem) 22-6
vs Garsfontein 19-10
Die tellings is egter effens misleidend en weerspieël glad nie hoe taai die kompetisie was nie. Punt eindig eerste in hulle poel en speel uit teen Stellenberg en wen naelskraap met 'n telling van 14-12.
Volgende moet Punt uitspeel teen Potchefstroom Gimnasium om te kyk wie gaan uitspeel vir eerste en tweede posisie. Dit was 'n bitter, taai stryd tot aan die einde. Punt kon ongelukkig nie die agterstand inhaal nie en verloor net-net 12-15.
Gelukkig is dit die einde den niet. Punt se volgende wedstryd is teen Waterkloof om te bepaal wie derde of vierde in die kompetisie eindig.
Die yster netbal-meisies is (agter): Anja Schwim, Zani Fourie en Elrize Moolman saam met me Elna Nel (afrigter), Winona Huisamen en Sanchia-Lee Barnardo. Voor: Charlene Johnson, Juanic Alberts en Tarryn Burger.
Punt was op 'n stadium vyf doele agter, maar hulle wys karakter en fokus om die agterstand in te haal. Die halftydtelling is 9-8 in Waterkloof se guns.
Punt wys senuwees van staal en die veggees van 'n trop wolwe. Hulle veg tot op die laaste sekonde en wen die wedstryd naelskraap, maar met groot blydskap en verligting met 'n telling van 17-16.
Punt se o/17 span eindig derde uit 21 onder 17 spanne. Potchefstroom Gimnasium het goud gewen en AHMP (Afrikaanse Hoër Meisieskool), silwer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'