MOSSELBAAI SPORTNUUS - Piet Pretorius (71), voormalige adjunk-speaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement het die naweek sy Springbokkleure in snelstap verwerf.
Nadat Pretorius in 2019 uit die politiek getree het, het hy sy speakerstoga vir stapskoene verruil, by 'n atletiekklub aangesluit en as 'n meestersatleet aan kompetisies begin deelneem.
Hy ding mee in die ouderdomsgroep 70 tot 74 jaar oud.
Die honderde kilometer en lang ure wat hy sedertdien op die oefenpad en atletiekbaan deurgebring het is pas beloon deurdat hy sy nasionale kleure in snelstap verwerf en ook sy groen baadjie ontvang het.
Pretorius het etlike jare lank as DA-kiesafdelingshoof vir Mosselbaai gedien en het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat dit juis op die dorp is wat sy liefde vir stap begin posvat het.
Om vir nasionale kleure in aanmerking te kom, moet 'n atleet bepaalde standaarde wat deur die nasionale beheerliggaam gestel word, minstens twee keer per seisoen by amptelike byeenkomste oortref. Hy het die standaarde 'n hele paar keer oortref in die stapitems oor 5km, 10km en 20km.
"Stap is seker die natuurlikse oefening moontlik. Hoewel snelstap vir baie mense moeilik en komieklik mag lyk, is dit heel natuurlik om heupe te swaai en arms te pomp as mens vinnig stap," verduidelik hy.
Minder stremmend
Volgens hom is snelstap ook minder stremmend op die knieë en enkels as draf. Beserings is die uitsondering en boonop is dit sommer ook 'n ideale manier om gewig te verloor.
"Ekself was nooit werklik oorgewig nie, maar met die afgelope twee jaar se ernstige stappery het ek tog 14 kilogram afgeskud," sê Pretorius.
Hy moedig almal aan om te stap vir oefening.
"Mosselbaai met sy pragtige natuurskoon en stil paaie is vroegoggend die ideale plek om te begin. My oggendstappe in Mosselbaai was altyd iets om na uit te sien op my gereelde besoeke."
Pretorius sê atlete van alle ouderdomme, vanaf 35 tot so oud as 100 en selfs ouer, kan aan meestersatletiek deelneem in 'n verskeidenheid items op die baan of veld.
"Die lekkerte van meestersatletiek is dat jy teen jou eie portuur meeding en dat jy ondanks pyne en skete steeds mededingend kan wees al is die jare nie meer aan jou kant nie."
Hy sluit af met die voorneme dat, sou sy liggaam saamspeel, hy beslis sal aanhou stap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'