TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Die afgelope Saterdag het Eden Jukskei daarin geslaag om 15 sosiale spelers van vyf sosiale klubs na Hartenbos te lok.
Dit was een groot vreugde om die ywerige en jukskeihonger spelers op die bane te sien aantree.
Benewens die sosiale spelers het 24 gesoute en deurwinterde klubspelers hul vaardighede met die jukskeie kom uitstal.
Die vorm van deelname was hoofsaaklik geskoei op trips (driespel), waar drie spelers per span deelneem. Sosiale spanne wat ingeskryf het, was onder andere Danabaai, Stilbaai, Groot Brak en Gouritzmond (twee spanne).
Selfs die Covid-19-pandemie wat jukskei speel vir heelwat maande aan bande gelê het, kon die entoesiasme beslis nie demp nie. Die geesdrif was kenmerkend toe die penne begin klap en die lê's ingeryg is. Uitstekende houe is by tye gegooi en gevolglik is puik skofte aangeteken.
Vanweë die feit dat Hartenbos oor 'n aantal bo-gemiddelde spelers beskik wat onder andere twee vroue te wete Elna van den Berg en Anette Esterhuizen insluit, het die klub in die eerste, tweede en derde plekke in die B-afdeling geëindig.
Die punteverskil tussen voormelde spanne was gering. Dit dui daarop dat die wedywering straf en uitdagend was.
Verskeie prestasie wisseltrofeë is oorhandig. Spelers van spanne wat onder die eerste drie plekke geëindig het, is beloon met 'n klein jukskeitrofee.
Uitslae:
B-afdeling: (Hartenbos het onder spelername deelgeneem).
Hartenbos (Bossie) (41½); Hartenbos (Elna) (35½); Hartenbos (Sydney) (32); Danabaai (24½); Riversdal (16½).
C-afdeling: Gouritzmond C2 (71); Groot Brak (67); Gouritzmond C1 (59); Mosselbaai (50); Stilbaai (49); Riversdal C1 (43½) ; Hartenbos (43½); Riversdal C2 (37).
Die wenners van die trips C-afdeling en wissel-trofee (Gouritzmond): Peter Milton, Connie van der Westhuizen en Neels van der Westhuizen.
Tweede plek in die Trips C-afdeling (Groot-Brakrivier), was Sarel du Plessis, Duimpie van Zyl en Eufesius Viljoen.
Almal sien uit na die volgende ope jukskeidag byeenkoms.
Môre, Saterdag 28 Augustus, gaan die liga-kompetisie voort en word daar na Riversdal gereis. Die opening vind om 08:00 plaas en aanvang van wedstryde om 08:30. Hartenbosspelers word versoek om skeie en penne in klubkleure te verf en klubdrag aan te trek.
Om betrokke in jukskei te raak, kontak Bossie Boshoff (076 317 9017) of Elna van der Berg (082 511 0705) van Hartenbos-jukskeiklub.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'