MOSSELBAAI NUUS - Die 560kg-toutrekspan van Hoër Landbouskool Oakdale het verlede maand die land by die toutrek-wêreldkampioenskap in Southport, Engeland verteenwoordig.
Die Oakdalers het in die uitdunronde teen Engeland, Switserland, België, Nederland, Swede en Chinese Taipei getrek.
Oakdale dring deur na die semi-finaal waar hulle die spanne van Nederland en Chinese Taipei oortuigend wen om deur te dring na die finaal teen Switserland.
Teen Switserland word die span na 'n waarskuwing met betrekking tot 'n tegniese aspek uitgeblaas en verwerf die silwermedalje. Switserland het die goud gewen.
Tydens die ope klubkampioenskap wat plaasgevind het, het Oakdale se 560kg A-span die goue medalje verwerf en die 560kg B-span 'n vierde plek behaal.
Volgens mnr André Latsky, die skoolhoof, was die span vanjaar beter voorbereid en was hulle absoluut oorgehaal om die Switserse span te wen.
"Ons is baie trots op hulle en dit is steeds 'n skitterende prestasie om as tweede beste in die wêreld gekroon te word."
Oakdale se 560kg-toutrekspan wat silwer verwerf het tydens die toutrek-wêreldkampioenskap in Southport, Engeland.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'