MOSSELBAAI SPORT NUUS - Die Coreen Fourie eco-avontuurwedloop en -stap sal vanjaar op Donderdag, 26 Desember vir sy 22ste bestaansjaar weer op die St Blaize-staproete by die Punt plaasvind.
Die avontuur het ontstaan in 1999 om hulde te bewys aan Coreen en ander soos sy wat 'n onselfsugtige bydrae gelewer het op verskeie platforms tot die opbou van Mosselbaai en sy gemeenskap.
Die roete volg die asemrowende kuslyn van Mosselbaai op die bekende St Blaize-staproete met die beginpunt by die grot en is ongeveer 6km lank met die draaipunt by die Coreen Fourie Eco Avontuur-monument wat 700m na die watertafel geleë is.
Vanjaar word hulde bewys aan 'n ou Mosselbaaier, Floris Mocke, wat skielik op 15 Julie vanjaar afgesterf het. Hy was 'n groot man met 'n sagte hart vir sy medemens. Floris se liefde vir mense was geken in die talent om ander se belange voor sy eie te stel. Nooit sou hy tweekeer dink om te help of te luister vir die in nood en so getuig sy jarelange diens by die plaaslike reserviste en NSRI (Nasionale Seereddingsinstituut). Floris was baie sosiaal en het altyd gelag en het die vermoë gehad om mense in sy teenwoordigheid op te beur.
Die Coreen Fourie eco-avontuur is nie 'n resies nie, maar meer 'n lekker oggend in die natuur om die prag van die see en kranse te beleef.
Deelnemers kan enige tyd tussen 06:30 en 08:00 op hul eie tyd begin stap en sal 'n medalje ontvang by voltooiïng. Inskrywingsgeld beloop R30 en alle fondse gaan vanjaar geskenk word vir droogtehulp. Vir enige navrae e-pos: quintusdeacon@hotmail.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'