Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaaiese sportlui het behoorlik die dorp en omstreke trots gemaak tydens verlede Saterdag, 5 Maart se Wes-Kaapse Sporttoekennings.
Nadia Jacobus-Julies van Herbertsdale het haar merk gemaak as 'n finalis in die kategorie vir sportvrywilliger van die jaar. Julies het hierdie nominasie ontvang aangesien sy aangewys is as die wenner in hierdie kategorie van die Eden Sporttoekennings.
Ricardi Matthee van Curro Mosselbaai was 'n finalis in die kategorie sportman met 'n gestremdheid. Hy het hierdie kategorietoekkening by die Eden Sporttoekennings ingepalm. Die ster by die toekenningsgeleentheid was egter fietsryer Linél Engelbrecht.
'Bly op my fiets'
Linél beoefen van kleinsaf sport.
"Ek het eers met gimanstiek begin, toe vaulting en perdry. Op skool het ek bykans alle sportsoorte beoefen, behalwe tennis en rugby."
Vanaf graad ses begin sy met biathle, triathle, tweekamp en driekamp, maar vanweë haar besef dat sy niks van hardloop hou nie, lê sy haar toe op fietsry.
"Hardloop maak 'n mens net moeër as enigiets anders wat jy doen. Ek bly liewer op my fiets."
En dít, blyk duidelik 'n goeie besluit te gewees het.
Linél was egter in haar graad 7-jaar deel van die eerste groep van Suid-Afrika wat internasionaal aan laserrun in Portugal gaan deelneem het. Haar ma, Thelma was saam met haar daar en het ook deelgeneem.
"Dit was baie lekker om saam in dieselfde sport te kon deelneem en beide te kon presteer."
Linél was ook twee keer in Egipte, eers vir 'n opleidingskamp in vyfkamp. In Junie 2021 is sy deel van Fietsry Suid-Afrika se span wat aan die Afrika kontinentale pad- en baankampioenskap deelneem.
Vanjaar, is 'n rustiger jaar vir Linél, enersyds omdat sy meen sy nie fiks is nie vanweë 'n paar terugslae vroeër vanjaar. Sy sal wel deelneem aan fietsrenne, maar haar oog is daarop om volgende jaar weer woema op haar wiele te kry.
VIDEO: Linél skitter by sporttoekennings
Sportmanskap
Sy oefen drie dae in die gimnasium. Ses dae per week sing haar fietswiele op die pad.
"In die week ry en 20- tot 40km per dag, afhangende van hoeveel beskikbare tyd ek het. Oor naweke moet ek 80 tot 100km doen."
Sy dink daaraan om by die polisie aan te sluit. Sy verduidelik dat sy liewer haar werk en sport apart van mekaar wil hou.
Waaroor sy wel droom is om vir 'n Europese span fiets te ry en om aan die Olimpiese Spele deel te neem.
En die Tour de France?
"Ek sal sien of ek daar gaan uitkom, maar ek bly liewer op die baan."
Wat van die Ysterman?
"Nee dankie. Ek het genoeg sulke tipe goed gedoen toe ek jonger was," lag sy.
Linél is van mening dat goeie sportmanskap die deurslaggewende faktor in haar persoonlike sukses is.
"Of jy nou wen of nie, bly altyd die mens wat jy is. Moenie dat ander jou afbring nie en as jy wen, moenie dink jy is beter as ander nie."
Ricardi Matthee en Linél Engelbrecht.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'