MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaier Owen Muller, sy oom, Chris Nieuwoudt, en hul derde spanmaat, Jan Visser, het die afgelope naweek in 'n Kaapse hengelkompetisie skoonskip gemaak.
Die West Coast Boat Angling Club bied jaarliks die Cape Bream Challenge in Kaapstad aan.
Nieuwoudt, 'n gebore Mosselbaaier wat nou in die Kaap woon, het met die prys vir die tophengelaar weggestap. Die driemanskap het ook die prys vir beste boot ingekatrol.
Nieuwoudt sê daar was meer as 50 bote wat vanjaar deelgeneem het. Sy span se pryse was altesaam meer as R20 000 werd.
Hy verduidelik dat die tophengelaarprys vir die swaarste vis is en topbootprys vir die gemiddelde gewig van die hoeveelheid hengelaars op die boot is.
Nieuwoudt se wenvis se gewig was 1,57 kg (die wêreldrekord vir dié vis is 1,7 kg) en die boot se gemiddeld was 1,2 kg.
Hengel en die see is beslis in Nieuwoudt en Muller se bloed. Nieuwoudt vertel sy oupa, Fred Hansen, was destyds die vuurtoringwagter op Mosselbaai en was self ook 'n kranige hengelaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’