MOSSELBAAI NUUS - Die Omgee Rehab-netbal NPO se manspan is vir die derde agtereenvolgende jaar as wenners in die Eden-netbalfederasie se ligawedstryde vir mans gekroon.
Dié kroon is al sedert 2023 hulle s’n.
Die eindstryd het gedurende September by die Van Riebeeck-stadion in Mosselbaai plaasgevind. Die Omgee Rehab-span van Mosselbaai het vir die Evergreens van George die stryd aangesê.
Albei spanne was slaggereed en het die wedstryd in goeie sportmangees gespeel. Die Mosselbaaiers het bewys dat verloor nie ’n opsie is nie en het met die goue medalje weggestap.
Van dié spelers het ook deel gevorm van die groep wat Eden tydens die nasionale manskampioenskappe in Durban vroeër vanjaar verteenwoordig het. Hulle het ’n bronsmedalje hier verower en daarmee saam geskiedenis gemaak.
Volgens die Eden-netbalfederasie is dit die eerste keer dat die manspan ’n medalje by die nasionale kampioenskappe wen.
Die Mosselbaai-spelers in Durban. Agter: Henno Beukes, Sergio Daniels, Keano van Staden, Julvirn Laws en Anwa Kettledas. Voor: Die Eden-afrigter, Carlyne Hendricks.
Die hoof- uitvoerende beampte en stigter van Die Omgee Rehab NPO, ds. Engie Immelman, sê hulle is besonder trots op hierdie manne - vir hul prestasie in die liga en ook in die kampioenskappe.
“Om vyf spelers in die Eden-span te hê is regtig iets!”
Die Netbal NPO, waarvan Claudia Erasmus die voorsitter is, is ’n onderafdeling van die oorhoofse Die Omgee Rehab NPO.
Immelman sê dit wil vir hulle voorkom of baie min mense bewus is van mansnetbal. Enigeen wat graag aan dié sport wil deelneem kan hom by 082 446 7222 kontak vir meer inligting.
Daar is ook ’n vroue en juniorspan om by aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’