SPORT NUUS - 'n Liggaamsbouer van Mosselbaai, Ludwig Bouwer (26) het onlangs die 'Muscle Model' kategorie by die Battle of the Titans kompetisie in Kaapstad gewen.
Hy is agterna uitgenooi om op 23 September aan 'n nasionale kompetisie in Pretoria deel te neem.
Wenners van al die streke sal tydens die geleentheid met mekaar meeding en die algehele wenner sal Suid-Afrika in Spanje by die Wêreldbyeenkoms verteenwoordig.
Ludwig sê sy fiksheidreis het 10 jaar gelede begin. Hy werk tans as 'n persoonlike afrigter op Mosselbaai en help ander mense om hulle gesondheidsdoelwitte te bereik.
Sy droom is drie jaar gelede bewaarheid toe een van Suid-Afrika se fiksheidsikone, Jaco de Bruyn, sy sosiale media profiel raakgesien het. De Bruyn het na Ludwig uitgereik en aangebied om hom af te rig. "Ek kon my oë nie glo toe ek sy boodskap lees nie, want almal weet wie hy is en ek het nooit gedink hy gaan die een wees wat my kan afrig nie."
Sedertdien rig De Bruyn steeds vir Ludwig af. Ludwig het intussen al aan verskeie kompetisies deelgeneem en sy fokus is nou op 23 September se kompetisie.
"Ek werk al langer as 10 jaar vir hierdie geleentheid en het volle vertroue in myself en in my afrigter dat als goed gaan verloop daardie dag."
Dit sal ook sy grootste kompetisie nog wees waaraan hy gaan deelneem.
Ludwig eet Maandae tot Sondae dieselfde etes, op dieselfde tyd. "Elke ete moet geweeg word en baie min mense verstaan wat dit alles behels en wat dit verg om so iets aan te pak. Almal sien net hoe 'n mens se lyf lyk by die kompetisies, maar niemand sien hoe jy sewe dae 'n week sukkel om daar te kom nie," vertel Ludwig.
Hy sê liggaamsbou het hom baie van homself geleer.
"Baie mense dink ook dit gaan net oor hoe jy lyk, maar besef nie hoeveel emosie daar betrokke is as dit kom by oefening nie."
Ludwig sien een keer 'n week uit na 'n 'cheat meal' en eet dan sommer 'n burger met sous en tjips.
Soggens eet hy 110g skoon hawermout met sewe eiers, een heel eier en ses eierwitte. Die res van sy etes bestaan hoofsaaklik uit hoender, brokkoli en rys.
Mosselbaai liggaamsbouer, Ludwig Bouwer kort nadat hy die 'muscle model' kategorie gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’