TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Vyf atlete van Eden Modern Pentathlon, is onlangs vir die Sampa-span gekies en het Suid-Afrika vanaf 12 tot 14 Junie by die Laser Run-wêreldbyeenkoms in Kairo, Egipte verteenwoordig.
Laser Run is 'n sportsoort waar daar na 'n teiken geskiet, en daarna gehardloop word.
Verskillende ouderdomme skiet op verskillende afstande na die teiken waarna verskillende afstande gehardloop word volgens ouderdom.
Die vyf atlete ter sprake, Pierre Myburgh (o.11), Albert Myburgh (o.13), Ruan Rossouw (o.15), Bertus Myburgh (40+) en Johan Windt (60+), het hulleself goed van hul taak gekwyt deur met vier medaljes terug te keer.
Windt het 'n goue medalje in die individuele wedloop verower, terwyl Bertus Myburgh (40+) 'n silwermedalje in sy individuele wedloop behaal het.
Myburgh het ook goue medalje vir spandeelname verwerf nadat die Suid-Afrikaners 1ste, 2de en 3de plekke in die 40+ afdeling gewen het.
Res van die uitslae:
Rossouw behaal 'n 11de plek individueel en verwerf ook silwermedalje vir spandeelname.
Myburgh behaal 15de plek in die individuele-afdeling en 7de plek in die gemengde-aflosafdeling.
Myburgh behaal 31ste plek individueel en 5de plek in die gemengde-aflosafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'