TUINROETE | HESSEQUA HENGEL NUUS - As jy 'n suksesvolle hengelaar wil wees, moet jy eenvoudig daarna streef om 'n weerkenner te word.
Aangesien winde grootliks bepaal hoe die see lyk, moet jy kan onderskei tussen gunstige en ongunstige winde.
In die Suid-Kaap is 'n voorspelling dat die wind matig aanlandig (suidoos of suidwes) gaan waai, goeie nuus.
Meestal veroorsaak hierdie winde dat die see lewendig is, met branders wat egalig ingerol kom.
Suidoos
Gedurende Oktober tot Maart hou hengelaars hierdie wind fyn dop. 'n Fris tot redelike sterk suidoos van so 2-3 dae is waarna hengelaars wat mosselkrakers soek, uitsien.
Oktober en November is goeie maande vir mosselkraker en as die toestande vir hulle reg is, haas hengelaars hulle na die bekende plekke met rooikrap as een van die belangrikste ase. Die saklimiet is twee visse per hengelaar per dag en die minimumgrootte 60 cm.
'n Paar dae se suidoos bring ook die kabeljou vinnig nader. Vir daghengel soek jy by 'n rotskus daardie egte kabeljouwater wat ontstaan wanneer die die bodem losgekarring word en die water ondeursigtig raak.
Veral die kus by Gouritsmond is bekend vir hierdie "gemmerbierwater". Sy sterk kieue stel die kabeljou in staat om selfs in modderkleurige water te oorleef. Sy gevoelige sylyn stel hom in staat om sy prooi in die donker water op te spoor en te vang. Wanneer rivierwater die see by riviermondings verkleur, is toestande vir kabeljou ook daar baie gunstig.
Saans of snags word vanaf sandstrande gehengel en dan wei kabeljou dikwels baie vlak. Die saklimiet is een vis per hengelaar per dag en die minimumgrootte 60 cm.
Teenvoeter vir koue water
'n Paar dae se sterk suidoos veroorsaak dikwels koue water. Hengelaars verlang dan na 'n dag of twee se redelike sterk suidwestewind om die water weer warmer te maak.
In koeler water (15°-16° C) word witsteenbras gevang. In die winter gaan koue fronte gepaard met sterk suidwestelike winde wat woelige tot sterk see tot gevolg het. Dit is toestande wat die galjoenhengelaar opgewonde maak.
Aflandige winde, ook bekend as "bergwind" waai soms in die laatherfs en winter van die land na die see. Omdat dit geneig is om die see baie plat en kouerig te maak, is hy nie baie gewild by hengelaars nie.
Pretbederwer
Suidewind, veral wanneer dit fris tot sterk waai, is 'n ongewilde wind. In sy boek Gooi los! vertel Jan Langenhoven die verhaal van die vissermanne van Witsand en Port Beaufort.
Tony Wait se rympie oor gunstige en ongunstige winde word in die boek aangehaal. 'n Deel van dié rympie lui: Wind blows south, fish close mouth.
'n Legende van daardie wêreld, Oubaas Rall, reken weer dat selfs die honde nie byt as die wind suid waai nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'