MOSSELBAAI SPORTNUUS - Verlede Saterdag het spelers van Riversdal, Mosselbaai en Hartenbos mekaar in 'n strawwe jukskeikompetisie die stryd aangesê.
'n Uiters mededingende program is deur Bossie Boshoff opgestel, waartydens span- en dubbelwedstryde op Hartenbos plaasgevind het.
Riversdal se B-span is aansienlik versterk deur Louis Badenhorst en Rian van der Walt wat vanjaar by hulle ingeskakel het. Hierdie twee spelers het dan ook skoonskip gemaak in die dubbelspelkompetisie, deur Hartenbos A1 met 9½ - 5½ te klop, asook om Hartenbos B2 12 - 3 die loef af te steek.
Hartenbos A2 het albei hul dubbelwedstryde gewen, beide met 10½ - 4½ om aan hulle in die betrokke afdeling 21 punte te besorg.
'n Strawwe wedywering het egter tussen Hartenbos se A- en B-span in die viermanspel geheers.
Jukskei van hoë gehalte is gelewer, soveel so dat die skeidsregter vir die dag, Henry Gerber by vier geleenthede ontbied is om meting te kom doen ten einde te bepaal watter span se skeie naaste aan die pen lê.
Die B-span het uiteindelik met 8 - 7 gewen nadat die A-span verplig was om te kraak (meer as 23 punte) om ook te verhinder dat 'n skof (23 punte) teen hulle aangeteken word.
In die spanspel het Hartenbos A in die eerste plek geëindig, met Hartenbos B tweede en Riversdal B in die derde plek.
Vanweë die strawwe wedywering in die parespel was die punteverskil tussen die verskillende spanne gering. Die twee A- en B-spanne in elke afdeling se punte is bymekaar getel, wat tot gevolg gehad het dat Hartenbos A1 en A2 eerste; Riverdsal B1 en B2 tweede; en Hartenbos B1 en B2 derde geëindig het.
'n Leenspeler van die sosiale klub op Groot-Brakrivier het goeie spel gelewer en meegehelp tot Hartenbos A-span se prestasie.
In die C-afdeling was die kompetisie eweneens straf en gevolglik was die punteverskil tussen spanne opmerklik gering.
In die spanspel was Riversdal eerste met Hartenbos tweede en Mosselbaai derde. Die dubbelspeluitslae tussen die verskillende spanne het aansienlik verskil van die uitslae in die spanspel. Mosselbaai het hier eerste geëindig, met Riversdal tweede en Hartenbos in die derde plek.
Uitslae (punte in hakies):
A- en B-afdelings:
Spanspel: Hartenbos A (20); Hartenbos B (13½); Riversdal B (11½).
Dubbelspel: A1 en A2 gesamentlik; B1 en B2 gesamentlik: Hartenbos A (33½); Riversdal B (30½); Hartenbos B (26).
C-afdeling:
Spanspel: Riversdal (17½); Hartenbos (15½); Mosselbaai (12).
Dubbelspel: C1 en C2 gesamentlik: Mosselbaai (36½); Riversdal (28); Hartenbos (25½).
Klubs word daarop gewys dat die opedag wat môre, Saterdag 25 September op Hartenbos sou plaasvind verskuif na 9 Oktober vanweë die langnaweek, en wel op Hartenbos.
Die opedag bepaal vir 16 Oktober verskuif vanaf Riversdal na Hartenbos. Die rede daarvoor is dat 'n groot saamtrek van spanne vanaf die Oostelike Provinsie en die Kaapse Wynlande op Hartenbos beplan word.
Elna van der Berg los haar skei om 'n lê te gooi.
Louis Minnaar van Hartenbos maak gereed om sy skei te lanseer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'