TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Covid-19 het jukskei nou reeds vir meer as ‘n jaar lamgelê.
Jukskeispelers laat hulle egter nie onderkry nie.
‘n Bewys hiervan is dat die Hartenbos-klub reeds oefen van voor die Desembervakansie af met toewyding.
Jukskeitaal
Laat die wiele rol - wanneer penne klokslag gegooi word. ‘n Kishou asseblief - wanneer ‘n penlê oftewel ‘n vierhou in die sandpunt op die pen se voet gegooi moet word, is algemene jukskei verwagtinge. Kam sy hare - wanneer ‘n skoon pen vereis word, sonder dat ander skeie in die sandput versteur mag word.
Hierdie is slegs enkele voorbeelde van gesegdes uit die ryke jukskei-arsenaal van sêgoed.
Spelers oefen Dinsdae en Donderdae vanaf 14:00 en soms tot 17:00 om hulle skerp en gereed te kry vir toernooie wat beplan word vir die seisoen wat voorlê.
Alle spelers tref die nodige voorsorg deurdat die koors gemeet word, hande word gesanitiseer en afstande word deeglik, sover prakties moontlik, gehandhaaf wanneer daar op Saterdae meegeding word. Selfs maskers vind hul plek op die gesig.
Saterdag
Die afgelope Saterdag is 'n ope trips-toernooi op Hartenbos aangebied. Dit beteken slegs drie spelers per span meeding. Die bywoning was beskeie en slegs nege spanne het ingeskryf, vier B-spanne en drie C-spanne. Steeds te wyte aan die vernietigende Covid-19.
Spanne in die B-afdeling het mekaar deeglik opgekeil, veral die twee spanne van Hartenbos. Die A1-span van Hartenbos bestaande uit Buks Scholtz, Dolf Barnard en Bossie Boshoff was beslis ‘n gedugte span en was duidelik te sterk vir die opponente.
Hul penkrag, tesame met puik afronding deur veral Buks Scholtz (voor) en Bossie Boshoff, agtergooier en dus die briek, soos algemeen bekend, het al die ander spanne deeglik beproef.
Hulle het die eerste plek verower met 11½ punte voor hul naaste teenstanders, te wete Hartenbos se B2-span. Baie geluk aan die B1-span.
Worcester B- en Mosselbaai B-spanne het swaar getrek en het goeie loesings op die lyf geloop.
Die finale uitslae is soos volg:
Ten einde alle spanne, ook die swakker spanne te akkomodeer is slegs B-spanne en C-spanne ingeskryf.
B-afdeling: Hartenbos B1 (71½); Hartenbos B2 (60); Worcester B (31); Mosselbaai B (17½).
C-afdeling: (Slegs drie spanne - dus ‘n driedubbele ronde) Stilbaai (34); Mosselbaai (29); Hartenbos (27).
Spelers moet daarop let dat die bestaande program soos versprei aan alle spelers aan die begin van die seisoen, verval vanweë die Koronavirus pandemie.
‘n Volgende nuwe program word gedurende hierdie week uitgerol en elke speler sal daarmee voorsien word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'