MOSSELBAAI NUUS - Tydens die 150-jarige feesvieringe van die bestaan van die Robinsonpas het 'n aantal jukskeispelers ook hul stempel afgedruk.
Bossie Boshoff van die Hartenbos-jukskeiklub het voor die fees 'n jukskeibaan gebou wat uitgestaan het tussen al die stalletjies van pret en eetgoed.
Johnny Coetzee en Dolf Barnard van die George-klub asook Buks Scholtz, Bossie Boshoff, Malie Pienaar en Elias Burger van Hartenbos het hul vernuf met die jukskei ten toon gestel.
Die belangstelling van omstanders het daartoe gelei dat verskeie persone, oud en jonk, ook hul vaardighede met die skeie kon beproef het.
Sommige van die rekrute het gou uitgevind dat om 'n jukskei te swaai en doelgerig te werp (gooi) nogal 'n kuns en tegniek op sy eie is.
Jukskeispelers verwelkom nuwe belangstellendes.
Vir meer inligting kontak Bossie Boshoff (044 693 4521) of Sydney Stopforth (082 371 3637).
Die fees, word verneem, kan in die toekoms 'n jaarlikse instelling word. Dit sal wonderlik wees, dit bring kultuurgroepe bymekaar en gesonde verhoudinge word met sodanige optrede gesmee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'