MOSSELBAAI NUUS - 'n Graad 8-leerder van Hoërskool Punt is onlangs aangewys om aan die wêreld se Jeugbyeenkoms vir skaakspelers in Brasilië te gaan deelneem.
Raynier Claassen (13 ), speel van kleins af skaak en het ‘n besondere liefde en aanvoeling vir die sport.
Sy Diaz Primêr graad 3-onderwyser, juffrou Genevieve Muller, het hom gekies om skaak by die skool te speel. Sy het sy gawe raakgesien en hom gemotiveer om te speel. Sy sê: “Raynier is ‘n trotse seun, wat altyd sy beste gee.” In 2019, toe hy nog nét in graad 3 was, behaal hy 'n tweede plek in 'n toernooi gedurende die Knysna Oesterfees.
In 2024 het hy die eerste posisie behaal by die Eden Geslote toernooi in die afdeling vir mans waar hy ook die jongste deelnemer was. Hy het deelgeneem aan die SuidAfrikaanse Junior toernooi waar sy tweede posisie hom vir die toernooi in SuidAmerika van 23 Oktober tot 12 November laat kwalifiseer het.
Hy is die enigste speler uit die Eden-distrik wat gekies is. Raynier hou ook van atletiek en rugby, en gee baie aandag aan sy skoolwerk. Sy groot passie is egter skaak. Vir Raynier om na Brasilië te reis gaan ook nie goedkoop wees nie.
Sy onkoste sluit in R40 000 (vlugte), R36 000 (verblyf) en R5 000 (etes). Indien daar iemand is om die jong seun by te staan om sy talent met die wêreld te deel kan Genevieve Heunis gekontak word op 061 738 5183.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’