MOSSELBAAI SPORTNUUS - Tydens die Laser Run Wêreldbyeenkoms wat van 12 tot 14 Junie in Kairo, Egipte, plaasgevind het, het Johan Windt van Mosselbaai die 60+ afdeling gewen en met 'n goue medalje teruggekeer.
Johan was deel van die Sampa-span wat Suid-Afrika verteenwoordig het.
Laser Run is 'n sport waar daar na 'n teiken geskiet en daarna gehardloop word. Verskillende ouderdomme skiet op verskillende afstande na 'n teiken waarna verskillende afstande gehardloop word.
Uitslae
Ander atlete van Eden MPA, almal van George, wat ook goed presteer het was:
Bertus Myburgh (40+), behaal 2de plek (silwer) in sy individuele wedloop en kry ook 'n goue medalje vir spandeelname, nadat die Suid-Afrikaners 1ste, 2de en 3de plekke in die 40+ afdeling behaal het.
Ruan Rossouw (o/15) behaal 11de plek individueel en verwerf ook 'n silwermedalje vir spandeelname.
Albert Myburgh (o/13) behaal 15de plek in die individuele afdeling en 7de plek in die gemengde aflosafdeling.
Pierre Myburgh (o/11) behaal 31ste plek individueel en 5de plek in die gemengde aflosafdeling.
Hierdie atlete het voorwaar Suid-Afrika en Eden MPA se naam hooggehou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'