MOSSELBAAI NUUS - Die tweede ronde van die Wes- en Suid-Kaap se interdistrikte jukskeitoernooi het verlede Saterdag op Wellington plaasgevind.
Die WP en Kaap Wynland was op volle sterkte en het verteenwoordigende spanne in al vier afdelings, te wete A-, B-, C- en D-kompetisies ingeskryf.
Eweneens was Overberg in elke afdeling verteenwoordig, hoewel met minder inskrywings.
Eden-distrik het slegs drie spanne gestuur met een span in elk van die A-, B- en C-afdelings.
Eden het alle verwagtinge oortref deur in die A- en B-afdelings eerste te eindig en goue medaljes te verower.
In aggenome die feit dat Eden die distrik met die minste spelers is spreek hul prestasie boekdele.
Hoewel goeie jukskei gegooi is en werklike uitstaande houe ten toon gestel is, is daar tekortkominge wat deurgeskemer het en sterk aangespreek sal moet word.
Die inoefen van spesifieke houe soos lê's, wegpenne en veral verdedigende houe wanneer vereis, verdien meer aandag.
Wenners van goue medaljes in die B-afdeling Fanie Welgemoed, Johnny Coetzee, Arina Steyn en Jan van Dyk.
Die finale puntestand is soos volg:
Van wegholoorwinnings was daar beslis geen sprake nie. Dit dui die totale duidelik aan.
A-afdeling
Kaap Wynland (KW); Westelike Provinsie (WP); Eden (64½); KW2 (58); WP1 (57); KW3(52½); WP3 (50½); Overberg (50); WP2 (45½); KW1 (42).
B-afdeling
In die B-afdeling het 10 spanne meegeding in twee afdelings en het uitspeelwedstryde die eerste drie plekke bepaal.
Eden (10); WP1 (8); KW1 (5).
C-afdeling
KW1 (82 ½); Overberg1 (78 ½); KW3 (77½); Eden (75½); Eden het die bronsmedalje met slegs 2½ punte verbeur. KW2 (73½); WP1 (72½); Overberg 2 (63½); KW4 (55½); KW5 (50½); WP2 (44½).
D-afdeling
Hierdie afdeling het hoofsaaklik bestaan uit skoolkinders wat aan die begin van hul jukskeiloopbaan staan.
Hul deelname was dus 'n blootstelling met die aard van kompeterende jukskei.
Die enkele pryse toegeken aan die wenners was ter aanmoediging ten einde die jeug te motiveer om vol te hou met hul belangstelling in jukskei.
Daar bly nog drie interdistrikte-toernooie in die 2017/2018 jukskeiseisoen oor.
Op 3 Februarie vind die MP Prinsloo-toernooi op Beaufort-Wes plaas; op 17 Februarie die tweede in Bellville en die derde en laaste een van die seisoen op 3 Maart op Sandbaai wat ook bekend staan as die Interdistrikte Overberg.
Daar is dus nog drie geleenthede vir spelers om hul ware kleure te toon en hul posisie op die punteleer te verstewig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'