Gallery Video
HARTENBOS NUUS, VIDEO EN GALERY- Die Danabaai-jukskeiklub se grootste opedag tot op hede is die afgelope Saterdag, 21 Februarie, by die Hartenbos-jukskeiklub gehou.
Altesaam 22 spanne van oral in die Suid-Kaap en Klein-Karoo het op nege bane meegeding.
In die B-afdeling het ’n gemengde span met die louere weggestap en ’n Danabaai-span was die oorwinnaars in die C-afdeling.
Suid-Afrika se mees bekroonde Protea-jukskeispeler (onder mans én vroue), Elna van der Berg, en die voormalige Protea-speler Sydney Stopforth (Stoppie) (89), beide van Hartenbos, was ook in aksie.
Stopforth speel al sedert 1998 by die Hartenbos-jukskeiklub. Hoewel hy deesdae net sosiaal speel, het hy vier agtereenvolgende jare (1994-1997) sy nasionale kleure verwerf.
Twee groot geeste op die plaaslike jukskeifront, Sydney Stopforth van Hartenbos en die voorsitter van die Danabaai-jukskeiklub, Pine Pienaar.
VIDEO: Danabaai-jukskeiklubvoorsitter, Pine Pienaar, gesels by die opedag
Deel van hierdie mylpaal met die groot hoeveelheid inskrywings vir die opedag was ’n span van Thembalethu, bestaande uit slegs swart spelers.
Volgens die organiseerders was dit die eerste keer dat ’n swart jukskeispan op die Hartenbos-baan gespeel het. Andile Mgulwa, wat self vir Oudtshoorn jukskei speel, het hierdie span saamgestel en ingeskryf.
Andile Mgulwa (links voor) en sy Thembalethu-span. Agter: Chumani Mhlaba, Hlumelo Williams, Nicolas Mbijekana, Asive Bhada en Gcobani Mavuso. Voor langs Mgulwa is Winnie Xame, wat hom oral vergesel waar hy jukskei speel.
Mgulwa is aan die departement van sport, kuns en kultuur verbonde en het reeds in 2001 as jongeling van Khayelitsha by jukskei betrokke geraak. Hy het ook in ’n stadium vir die junior Westelike Provinsie-jukskeispan gespeel. Later het hy in Khayelitsha en ook daarna in 2017 in Thembalethu spanne gevestig. Dit is dan ook laasgenoemde span wat Saterdag in aksie was.
VIDEO: Andile Mgulwa sê kortliks waarom hý jukskei geniet
Die kombinasie van spelers is ’n goeie aanduiding van die kultuur- én ouderdomsgrense wat hierdie sport oorskry. Louis Badenhorst van George en sy dogter, Theana van der Walt van Riversdal, glo dis iets waaraan enige persoon, maak nie saak die ouderdom, kultuur of geslag, kan deelneem.
VIDEO: Pa Louis en dogter Theana gesels jukskei, familie en fiksheid
Van der Walt sê al het sy in ’n jukskeigesin grootgeword het, het sy eers so 11 jaar gelede self begin speel. Badenhorst speel al vir meer as 50 jaar.
Altesaam 16 spanne het in die C-afdeling meegeding en ses in die B-afdeling.
Dié jukskei-opedae word twee maal ’n jaar aangebied. Saterdag se kompetisie was deel van die voorbereiding vir die nasionale kampioenskappe wat einde Maart in Kroonstad plaasvind.
Suid-Afrika se mees bekroonde Protea-jukskeispeler, Elna van der Berg, en haar spanmaat, Leana Albertyn, by Saterdag se opedag in Hartenbos.
Uitslae (B)
Eerste: Gemengde span - Bossie Boshoff, Martiens Oosthuizen, Sydney Stopforth en Louis Badenhorst.
Tweede: Danabaai-span - Pieter van Straaten, Pine Pienaar, Tap van der Schyff en Andries Visagie.
Derde: Hartenbos-span - Johan Brummer, Leana Albertyn, Elna van der Berg en Chris Erasmus.
Uitslae (C)
Eerste: Danabaai-span - Faan Steyn, Nelie Bonnet (reserwe), Helena en Kobus Norris en Hannes van der Walt.
Tweede: Hartenbos-span - André Olivier, Elias Burger, Gawie du Toit en Gerrit Strydom.
Derde: Hartenbos-span - Chris Ludick, Bertus Naude, Johan Geyer en Bokkie Bronkhorst.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’